Versoening

 

Matteus 5: 21-26

 

Jesus verwys na voorbeelde van gedrag wat nie met liefde versoenbaar is nie. Daarom, wie vir ’n ander kwaad is, moet versoen. Dit is ook nie versoenbaar met die eise van die liefde om ’n ander uit te skel vir ’n gek of ’n idioot nie. Dié begrippe, gek en idioot, is destyds gebruik om ’n persoon sleg te sê of bespotlik te maak. Die voorbeelde wat Jesus hier ter sprake bring, dui op relatief geringe vergrype teen ’n ander mens in vergelyking met moord. Om iemand se eer te krenk, lê tog op ’n heel ander vlak as om iemand te vermoor. Tog sê Jesus dat die een geval, net soos die ander geval, deur God gestraf sal word.

Verse 23 en 24 herinner baie sterk aan die profetiese vermanings van die Ou Testament. Dit gaan hier daaroor dat ’n mens se kultiese (godsdienstige) lewe en jou etiese lewe (algemene optrede) versoenbaar moet wees. Jy kan nie aan godsdienstige seremonies wil deelneem as jou lewe in verhouding tot jou medemens nie in orde is nie. Daarom is dit vanpas om ’n offerhandeling te onderbreek en eers te versoen met mense wat in onvrede met jou lewe.

Die verwysing na die ander mense as jou broer, toon aan dat Matteus die gemeente sien as ’n broederlike gemeenskap. Dit beteken egter nie dat die soeke na vrede tussen mense beperk moet word tot die grense van die gemeente nie. ’n Mens moet nie alleen met jou medegelowiges in vrede lewe nie, maar ook met alle ander mense.

Versoen eerder as om moord te pleeg of om kwaad vir ander deur die lewe te gaan! Die gemeente konsolideer tot ’n broederlike gemeenskap in liefde en vrede. Wat Jesus ons hier leer, is nie moeilik om te verstaan nie. Dit is wel uitdagend om volgens sy lering te lewe. Liefde en versoening vra dikwels meer van ons as wette en regulasies, want dit vra meer as gehoorsaamheid. Dit vra ook selfopoffering en die prysgawe van jou eie belange.

Dr Gafie van Wyk

Kaapstad