Liefde

 

Matteus 5: 43-48

 

Die opvatting dat die opdrag om die vyand lief te hê uniek Christelik is, is nie korrek nie. Die gedagte van liefde vir die vyand kom ook by die Jode en die Grieke voor. Ons kom dit verder teë in ander godsdienste soos die Boeddhisme en Taoïsme. Die radikaliteit en absoluutheid van Jesus se formulering val egter op. Die Jodedom leer net liefde vir die vyand so ver dit realisties moontlik is. By die Grieke is die eis van liefde vir die vyand ingebed in die opvatting dat ’n mens alle ander mense moet liefhê, omdat die mens ’n goddelike oorsprong het en van die gode afstam.

By Jesus gaan dit nie in die eerste plek oor ’n gesindheid wanneer liefde vir jou vyand ter sprake kom nie, maar oor konkrete dade van liefde. Hierdie dade van liefde is natuurlik gegrond in gevoelens van liefde, sodat die gebod aanspraak maak op die mens as totaliteit. Jesus se opvatting is ook radikaal in dié opsig dat liefde vir die vyand nie ’n doel tot iets anders is nie, maar wel ’n doel in sigself. Jy het nie ander lief om hul guns te wen nie. Jy het nie jou vyande lief sodat hulle hul vyandige houding moet laat vaar nie. Jy het hulle lief suiwer ter wille daarvan om hulle lief te hê, en ten koste van die feit dat hulle jou moontlik selfs mag vervolg. Die feit dat Jesus vyandskap en vervolging met mekaar in verband bring, dui daarop dat die vyande waarna verwys word waarskynlik die vervolgers van die gelowiges is. Die woord wat vir vyande gebruik word, dui egter op vyande in elke moontlike vorm en gestalte.

Die feit dat God goed doen aan goeies én slegtes is alleen maar indirek ’n begronding van die gebod van liefde vir die vyand. Die "doel" met liefde vir die vyand is sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel.

Dr Gafie van Wyk

Kaapstad