Lyding ter wille van die evangelie

 

2 Timoteus 2: 8-13

 

Dit is belangrik om voortdurend te besef waarmee ons in die kerk besig is. Paulus herinner ons dat dit in die kerk ten diepste gaan oor Jesus Christus, ’n nakomeling van Dawid, wat uit die dood opgewek is. Dít is die evangelie, en dít is waarom dit ten diepste handel. Die verkondiging van hierdie evangelie bring lyding mee. In Paulus se geval is hy in die tronk gegooi en gemartel. Ons word (nog) nie aan hierdie tipe van brutaliteit blootgestel nie, maar ons ly op ander maniere wanneer ons met oortuiging van hierdie evangelie voor ander praat. Mense wat hierdie boodskap nie kan glo nie, lag ons uit of beledig ons. Dikwels vermy mense ons en word ons uit geselskappe weggedryf. Die ergste is wanneer die mense die naaste aan ons, ons eie familie, ons uitlag omdat ons nou nog, in hierdie moderne tye, aan ’n ongeloofwaardige gedagte soos die opwekking uit die dood wil vashou.

Paulus vermaan ons om hierdie onreg te verdra ter wille van die uitverkorenes. Met uitverkorenes bedoel Paulus diegene wat glo en diegene wat kán glo – met ander woorde, die getroue lidmate binne die kerk en diegene op die rand van die kerk. Ter wille van al hierdie mense moet ons die beledigings en vernederings verdra, aangesien ons voortgesette getrouheid aan Jesus Christus ’n positiewe uitwerking op ander sál hê.

Paulus troos ons dat wanneer ons saam met Christus ly en sterf, ons saam met Hom sal lewe; wanneer ons in die geloof volhard, sal ons saam met Hom regeer. Hy herinner ons egter ook daaraan dat indien ons Hom verloën, Hy ons ook sal verloën. Paulus sluit dan af deur uit ’n ou Christelike lied aan te haal wat sê al is ons ontrou, sal Christus nooit aan ons ontrou wees nie. Watter troosvolle gedagte! Al laat ons Hom in die steek, Hy sal ons nie in die steek laat nie! Om hierdie rede moet ons volhard in ons geloof sodat ons die God van genade en barmhartigheid nie sal verloën nie.

Gesang 387: 4

Prof Natie van Wyk

Ekumeniese Skakeling