Getrouheid aan die evangelie

 

2 Timoteus 1: 3-18

 

Talle lidmate wat die Bybelse Dagboek lees, is mense wat in die Kerk grootgeword het. Hul ouers was lidmate wat hard gewerk het om kerkgeboue op te rig, orrels aan te koop en predikante te stuur vir onderrig. Hulle was mense soos Loïs en Eunice waarvan ons in vers 5 lees. Ons het, soos Timoteus, by ons ouers en grootouers van die evangelie geleer. Ons het by hulle geleer dat ’n mens die lewe, met al sy hoogtepunte en laagtepunte, met die evangelie in die hand en hart goed kan hanteer. Ons het ook by hulle geleer om nie skaam te wees vir die evangelie nie, en dat ’n mens met vrymoedigheid daaroor met ander mense kan praat.

Ons omstandighede het egter drasties verander. Dit wat vir Ma en Ouma belangrik was, is nie meer noodwendig vir ons en ons kinders belangrik nie – en ons het skaam geraak om oor die evangelie te praat. Ons ervaar vandag swaarkry op ’n vreemde manier. Sekere lidmate sal selfs van hul marteling praat. Hierdie swaarkry en marteling het te make met die werklikheid dat talle getroue lidmate se kinders en ander familielede nie meer met die Kerk meelewe nie, en nie meer met die Bybelse boodskap wil identifiseer nie.

Al wat ons kan doen, is om Paulus se raad te volg. Ons moet dag en nag vir hulle bid. Ons moet bid dat God weer aan hulle die gawe van geloof sal skenk en dat die Heilige Gees hulle sal oortuig dat daar geen rede is om oor die evangelie skaam te wees nie, aangesien dit die enigste manier is hoe ons die groot lewensprobleme kan oorkom. Slegs die dood en opstanding van Christus ontneem ons van die duister van die dood en skenk aan ons die lig van nuwe lewe. Wat ook belangrik is van Paulus, is sy argument dat God van ewig af aan ons en ons kinders sy genade wou skenk, en dat Hy aan hierdie voorneme getrou bly tot by Jesus se wederkoms. Dalk is die gedagte van God se ewige voorneme om aan ’n kind liefde te skenk ’n argument wat in ons tyd weer gebruik moet word.

Prof Natie van Wyk

Ekumeniese Skakeling