Christelike geloof en martelaarskap

 

Handelinge 12: 1-5

 

Ons lees op verskillende plekke in die Bybel van mense wat doodgemaak is omdat hulle van Jesus Christus gehoor het en begerig was om dít wat hulle betroubaar gehoor het, verder te vertel. Só is Jakobus, die broer van Johannes, een van talle voorbeelde. Ons praat in ons Kerk té maklik oor die gedagte om in Jesus se voetspore te volg. Weet ons werklik wat dit behels, en het ons die vaagste benul wat die konsekwensies kan wees? Ek wil aanvaar dat wanneer ons oor navolging praat, ons dikwels nie rekening hou met martelaarskap nie. Die rede kan wees dat ons as Christene dit te maklik het in hierdie land. Ons word (nog) nie fisies bedreig nie, en ons word beskerm deur landswette wat die reg op godsdiensbeoefening verseker.

Ons sal dwaas wees om te dink dat ons die volgende dekade of twee van fisiese bedreigings gevrywaar sal wees. Ons moeilikheid is vinnig op pad. Intussen ly ons onder ’n samelewing wat al minder en minder waardering vir en geduld met die kerk het. Ons word daagliks in koerante aangeval en beledig. Ons word belaglik gemaak en bespotlik voorgestel.

Hoe gaan ons voort onder hierdie omstandighede? Ons moet bly glo – glo dat dieselfde God wat Petrus op ’n wonderbaarlike wyse uit die tronk bevry het, ook steeds ons God is, wat steeds op wonderbaarlike wyse in ons samelewing kan handel. Tweedens moet ons bly hoop – hoop dat Jesus Christus deur sy Gees in ons tyd mense tot insig in die Christelike godsdiens sal bring. Derdens moet ons bly liefhê – diegene liefhê wat geen waardering vir die kerk se boodskap het nie. Wanneer ons hierdie drie dinge doen, kan ons daarop aanspraak maak dat ons in Jesus se voetspore volg. En ons weet – nie een van hierdie drie dinge is maklik nie. Om te bly glo terwyl ander oor die geloof lag, om te bly hoop terwyl ander alle hoop prysgegee het, en om lief te hê in ’n samelewing waar die haat gedy, is nie maklik nie. Om hierdie rede bly ons vir mekaar bid.

Prof Natie van Wyk

Ekumeniese Skakeling