Martelaarskap en ander godsdienste

 

Handelinge 15: 16-40

 

Die internasionale toneel het binne ’n dekade drasties verander. Mense wat nie die radikale Moslem groeperings in die Arabiese wêreld steun nie, is nie meer veilig nie. Ons het die afgelope twee jaar kennis geneem van talle grusame ontvoerings, marteling en moord op Christene – selfs in Afrikalande soos Nigerië en Egipte. Christene is lewend verbrand of opgeblaas in hul eie kerke. Hulle is soos diere in hokke deur die strate geparadeer en een vir een in die openbaar onthoof. Tydens die skryf van hierdie dagstukkie het ons kennis gekry van tientalle Europese toeriste wat in Tunisië koelbloedig op ’n strand doodgeskiet is. Daar is geen twyfel meer nie: Ons staan op die punt van ’n geweldige godsdiensstryd en dalk ’n godsdiensoorlog.

Wat word van ons as Christene in hierdie krisis verwag? Ons moet minstens doen wat Paulus en Silas in Filippi gedoen het. Hulle is ook gekonfronteer met die onredelike woede en aggressie van mense wat aan die Joodse en Romeinse godsdienste verbind was. Hulle is gemartel en in die tronk gegooi. En, wat doen hulle toe daar? Hulle bid en sing lofliedere – en toe gebeur ’n wonderwerk!

Die konflik met Moslem radikale kan dalk ons hele verstaan en belewing van geloof verander – en dít sekerlik alles ten goede. Ons denke word só deur die stryd met wetenskap en tegnologie oorheers, dat ons selde besef dat ons ook gekonfronteer word met nuwe gestaltes van onmenslikheid en barbaarsheid. Hierdie probleme en konflikte gaan selde met redelikheid en onderhandeling besleg word. Vir ’n gesprek oor moraliteit is daar binne sulke konflikte maar min ruimte. Om hierdie rede sal ons na alle waarskynlikheid die krag van gebed en geestelike liedere nuut ontdek. Hieroor kan ons egter dankbaar wees. Dalk gaan hierdie nuwe godsdiensstryd nuwe lewe in ons gemeentelike lewe bring.

Gebed

Hemelse Vader, ons bid vir almal wat gyselaar gehou en gemartel word. Ons bid vir die families en gemeentes wie se dierbares brutaal vermoor is. Ons bid vir die werking van u Gees wat alle boosheid kan oorwin. Amen.

Gesang 519: 3-4

Prof Natie van Wyk

Ekumeniese Skakeling