Die vuur van God se toorn geblus

 

Numeri 11: 1-3

 

Die name van plekke wat die volk agterlaat op die trek deur die woestyn, staan soos monumente vir God se trou en voorsienigheid. Die Rietsee, waar God die water oopgekloof het. Mara, waar bitter water soet geword het. Die Sin-woestyn, waar God kos uit die hemel gestuur het. Refidim, waar water uit ’n rots gevloei het. Sinai, waar die volk moes geleer het dat God sonder twyfel tussen hulle is. Maar die name Tabera en Kibrot-Taäwa is pynlike herinneringe aan die volk se opstandigheid. Tabera beteken brand of verbranding, want ’n vuur, die teken van God se toorn, het uitgebreek omdat die volk God verwyt het oor die moeilike tye wat hulle beleef het. In plaas daarvan om te dink aan sy troue sorg wat hulle vergesel en hul toevlug tot Hom te neem, kla en murmureer hulle. Toe ’n deel van die kamp egter verbrand in die vuur van God se oordeel, gaan kla hulle soos altyd by Moses. Weer eens tree Moses in vir hulle, en die vuur gaan dood.

Hierdie Skrifgedeelte onderstreep die gloeiende werklikheid van God se straf op die sonde en hoe onontbeerlik ’n middelaar tussen ons en God is. Moeilike tye is geneig om die slegste in ons na vore te bring, sodat ons vrye teuels gee aan woede en frustrasie.

Die straf vir die sonde is die dood. Maar die vuur van God se toorn gaan dood en die lewe in oorvloed behoort aan ons, want ons troue God het vir ons ’n Middelaar voorsien.

Gebed

Here, vergewe ons asseblief ons magdom oortredinge, in die Naam van Hom wat U as Middelaar voorsien het.

Gesang 585: 2-3

Dr Estelle Dannhauser

Springs/Zesfontein