My wil teenoor u wil

 

Genesis 22: 6-12

 

Ons dink maklik ons geloof is sterk, totdat tye van angs en onsekerheid aanbreek. Dan stuit ons voor Jesus se Getsemane-gebed. Ons fokus eerder op ons en ander se nood wanneer ons bid: Skenk tog reën in die versengende droogte. Genees tog my kind wat aan kanker ly. Bewaar tog my bejaarde, weerlose ouers. Gee tog weer vir my werk noudat ek my werk verloor het.

Jesus bid: Nogtans nie my wil nie… Vir ons so moeilik, selfs onmoontlik. Ons vrees dat God se wil dalk nie met ons wil strook nie. Waarom? Omdat ons nie vertrou dat God se wil vir ons die beste is nie.

Abram-hulle aanbid in Ur die maangod. Sy vrou Sarai was onvrugbaar. Met hulle begin God ’n gemeenskap van gelowiges. Hulle trek gelowig die onbekende in, net met God wat hulle lei. God beloof ’n land, groot nageslag, seën en aansien. In hongersnood vrees Abraham hulle sal sterf en hulle vlug na Egipte, waar hy Sara laat lieg dat hulle broer en suster is sodat die farao hom nie doodmaak nie. Abram sukkel om God te vertrou. Hy volg sy eie wil. Net so, wanneer dit lyk of hy nie kinders sal hê nie, volg hy sy eie wil eerder as om God te vertrou. Isak se geboorte is die tasbare bewys dat ons maar op God kan vertrou.

Toe sy grootste toets aanbreek, het Abraham geleer om God te vertrou. Toe God roep, is hy bereid om God te gehoorsaam, wat Hy ook al vra. Wanneer Isak hartroerend vra waar die offerlam is, antwoord Abraham eenvoudig dat God sal voorsien. En God hét voorsien.

Dieselfde God nooi ons steeds om die onbekende saam met Hom aan te durf – volgens sy wil. Waag dit, en ontdek die bevryding en vreugde van vertroue in God. Waag dit om te bid: Laat u wil geskied!

Gebed

Here, lei my na daardie punt van totale geloofsvertroue waar ek met oorgawe kan sê: Laat u wil geskied.

Gesang 266

Dr Estelle Dannhauser

Springs/Zesfontein