Ek (glo)

 

Romeine 8: 31-39

 

Die eerste woord in die belydenis (twaalf artikels) wat opvallend is, is die woord ek. Die eerste sinsnede lui immers: Ek glo in God die Vader. Waarom staan ek vooraan? Daar sou natuurlik net so goed ons kon gestaan het. Want geen mens glo mos op sy eie êrens weg van ander gelowiges af nie. Ek wat my geloof bely, is deel van ons wat ons geloof bely. Dit is om hierdie rede dat die geloofsbelydenis van Nicea dan ook sê: Ons glo in een God. Ek glo altyd saam met ander gelowiges, saam met die kerk. Maar die mens wat glo, los nie op as hy by ander gelowiges kom nie. Hy verdwyn nie. Hy hou nie op om te bestaan nie. Daarom kan hy ook altyd sê: Ek glo.

Dat ’n gelowige saam met ander gelowiges tog kan sê ek glo, is tot groot troos. Dit bied immers die blye sekerheid dat God nie net ander mense verlos nie, maar ook vir my. ʼn Mens sal net altyd moet onthou dat jy jouself hier teenoor God plaas. Daarom sal die ek as’t ware met ’n klein lettertjie geskryf moet word: ek glo in God. Nie ek wat glo is so belangrik nie, maar God in wie ek glo. Daarom sal daar by my nederigheid en dankbaarheid moet wees. Aan die ander kant is daar aan die woordjie ek ook iets uitdagend verbonde. Dit plaas my teenoor die wêreld. Nou gaan staan ek met die volle wapenrusting van God aan, teenoor die wêreld en in die wêreld, en sê sonder enige twyfel ek glo in God. Ek is derhalwe geroep om in diens van God en tot eer van God te leef.

Ek het die Woord van God gehoor. Ek mag daarop antwoord. Ek wil praat en wil nie swyg nie – my lewe is van God afhanklik. Dit stel my in staat om te sê: ...ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie (Rom 8: 38 en 39, 1933-vertaling).

Prof Johan Koekemoer

Emeritus