Ek glo in Jesus Christus

 

Matteus 3: 13-17

 

Die naam Jesus het baie in Israel voorgekom. Dit beteken eenvoudig die Here red. In Matteus 1: 21 motiveer die engel wat aan Josef verskyn het ook waarom die kindjie Jesus genoem moet word: ...want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.

Jesus is die Verlosser, die Redder, die Saligmaker wat aan Israel beloof is. Die Heidelbergse Kategismus voeg aan sy verklaring van hierdie Naam ook nog toe en dat by niemand anders enige saligheid te soek of te vind is nie. In Jesus het ons alles wat vir ons verlossing nodig is, want daar is geen ander naam op aarde aan die mense gegee waardeur ons verlos kan word nie.

Ons geloofsbelydenis sê: Ek glo in Jesus Christus. Hy het net een eienaam en dit is Jesus. Maar hierdie Jesus verskil van al die ander wat dieselfde naam het. Hy is die Christus. Christus is sy ampsnaam. Dit beteken Gesalfde. In die Ou Testament word dit weergegee met die begrip Messias, gesalfde van die Here. Die Naam Christus verbind die ou verbond met die nuwe. Daarmee word tegelyk gesê dat Jesus gesalf is tot koninklike, priesterlike en profetiese amp.

Die Heidelbergse Kategismus sê dat Jesus met die Heilige Gees gesalf is. Daarmee verwys die Kategismus na die gebeurtenis van Jesus se doop deur Johannes. By dié geleentheid daal die Gees soos ’n duif op Hom neer en daar is ’n stem uit die hemel wat sê: Dit is my geliefde Seun, in wie Ek ’n welbehae het (Matt 3: 16 en 17). Die lydende kneg van die Here is die een in wie God welbehae het. Hy het sy Gees op Hom gelê. Hy is die een wat die straf wat vir ons vrede bring, sal dra. Hy is die Verlosser. Deur sy salwing met die Heilige Gees is Hy geproklameer as die unieke draer van die drie ampte wat onder die ou verbond deur drie verskillende persone gedra is: profeet, hoëpriester en koning. Die Heidelbergse Kategismus stel dit vir ons duidelik as hy ook sê: Hy is Profeet; Hy is Hoëpriester; Hy is Koning.

 

Prof Johan Koekemoer

Emeritus