Onder Pontius Pilatus gely

 

Lukas 23: 1-25

 

Die lyding van Jesus Christus het al by sy geboorte begin. Wat vir die herders en vir ons ’n goeie tyding van groot blydskap was en is, het vir Jesus Christus lyding beteken. Die lyding begin reeds daar waar Hy in die gestalte van ’n dienskneg in die gelykheid van mense as ’n mens gebore word (Fil 2). Kort na sy geboorte soek Herodes al na Hom om Hom dood te maak, en later verraai een van sy dissipels Hom en ’n ander verloën Hom. Uiteindelik moet Hy aan die kruis uitroep: My God, my God, waarom het U My verlaat?

Hy het gely om ons met God te versoen. Hy het in ons plek gaan staan en in ons plek die straf vir ons sonde gedra. Ons kan dus ook sê dat Hy plekke met ons omgeruil het. Hy het ons sonde en skuld vir Hom gevat. Hy het ons verlore saak sy saak gemaak. Aan ons het Hy sy geregtigheid geskenk. Dit beteken vir ons dat wanneer ons in Hom glo, ons nou in die regte verhouding tot God staan. Ons wat van nature geneig is om God te haat, word om Christus wil dus kinders van God. Daarom sê die Bybel dat Christus moes ly om ons tot God te bring.

’n Ander vraag duik op: Wat maak die naam van Pontius Pilatus in ons geloofsbelydenis? Hy was die stadhouer van die Romeinse keiser in Palestina. Ons sou derhalwe kan sê dat hy die verteenwoordiger van die wêreldryk was. Met die noem van die naam Pontius Pilatus wil ons dus sê dat Christus op ’n bepaalde tyd in die geskiedenis geleef, gely en gesterf het. Hy is egter ook nog die regter wat die vonnis gevel het. Maar nou die misterie: Pilatus het as regter die onskuld van Jesus vasgestel. Hy het dit immers ook in soveel woorde gesê: Ek vind geen skuld in hierdie man nie (Luk 23: 4). Nieteenstaande sy bevinding word Jesus tog ter dood veroordeel.

Lê hierin nie juis iets van die hart van die evangelie nie? Jesus het onskuldig gely en gesterwe. Hy het vir ons, die skuldiges, gely en gesterwe. Hy het sy lewe gegee as ’n losprys vir baie mense...

Prof Johan Koekemoer

Emeritus