Gekruisig, gesterf en begrawe

 

Lukas 23: 26-55

 

Die kruisiging van mense was ’n vorm van straf wat die Romeine gebruik het. Die Ou Testament ken ook die uitdrukking aan die hout hang as ’n skandelike straf. Die simboliek wat agter die twee strafvorms lê, is dieselfde. Die veroordeelde is ’n uitgeworpene. Die aarde werp hom uit en die hemel wil hom nie ontvang nie. God en mens wil niks met hom te doen hê nie (Deut 21: 23; Gal 3: 13). Die kruisiging het dus vir Jesus Christus beteken dat Hy vervloek is. Hy is deur God en mense verlaat. So het Hy ons vervloeking op Hom geneem en ons met sy seëninge vervul.

Die woorde wat gesterf het het nie van die begin af deel van die belydenis gevorm nie. Dit is ingevoeg om die dwaling dat Jesus van die kruis af opgevaar het na die hemel, te weerspreek. Daar lê natuurlik vir ons ’n diepe troos opgesluit in die feit dat ons kan bely dat Jesus gesterf het. As Christus sterf, ontvang Hy die loon wat ons vir ons sondes verdien het.

Jesus Christus is ook begrawe. Daarmee wil ons sê dat Jesus waarlik gesterf het. Jesus se dood was ’n werklikheid. Daarom sal sy opstanding ook ’n werklikheid wees. Hy is verder in ’n ander man se graf begrawe. Jesus Christus het dus nie alleen die sonde en dood van ander gedra nie, maar ook in die "ander" se graf ingegaan om dit sy eie graf te maak. ’n Mens sou dus kon sê dat die graf van die gelowige ’n plek is waarin die Here was voordat ons daarin weggelê word. Daarom is ’n gelowige se graf nie ’n laaste, stille rusplek nie, maar juis die plek van verwagting van die opstanding.

Watter nut het die offerande en die dood van Christus dan vir ons? Die ou mens is geregeer deur allerhande sondige begeertes. Die ou mens is in Christus gekruisig. Die ou mens word saam met Christus gedood en begrawe. Dit beteken dat ons as gelowiges nou nuwe mense is. Hierdie nuwe mens is vry om God te dien en te dank. Dit behoort ons almal te doen omdat Christus vir ons gedood en begrawe is en saam met Hom ons eie sondige "ek". Nou kan ons saam met Paulus sê: Ek leef nie meer nie, maar Christus in my. In my lewe gaan dit nie meer om myself nie, maar om Jesus Christus.

Prof Johan Koekemoer

Emeritus