Opstanding, hemelvaart en wederkoms

 

Markus 16: 1-20

 

Jesus Christus is op Vrydag gekruisig, dit is die eerste dag. Op die derde dag, die Sondag, het Hy opgestaan uit die dood. Niemand het die opstanding self aanskou nie. Maar die Nuwe Testament lewer getuienis dat Jesus aan verskillende mense verskyn het. ’n Mens sou kon sê dat ons geloof staan en val by die opstanding van Jesus Christus. Volgens Paulus sou ons geloof nutteloos wees as Christus nie opgestaan het nie.

Ook die hemelvaart van Christus het vir ons besondere betekenis. Eerstens is Hy ons voorspraak voor God die Vader. Hy is na sy menslike natuur in die hemel as waarborg dat daar vir ons mense plek in die hemel is. Hy self sal ons na Hom toe neem. Die Heilige Gees het ná die hemelvaart na ons toe gekom om ons in die volle waarheid te lei (Joh 17). Hy neem wat aan Christus behoort en maak dit tot ons eiendom.

Jesus Christus het opgevaar na die hemel, maar Hy sal weer kom. Die Bybel laat ons nie hieroor in die duister nie. Hierdie verwagting mag ons nooit uit die oog verloor nie. By die vroeë Christelike gemeentes het daar ’n baie sterk verwagting na die wederkoms van Jesus Christus gelewe. Dit is nogal in teenstelling met ons moderne mense by wie die toekomsverwagting soms ontbreek. In ons geloof kyk ons agtertoe, leef in die hede en kyk vorentoe. Ons kyk nie net in een rigting nie. Ons bely tegelyk dat Jesus Christus reeds in die vlees gekom het, en dat Hy weer sal kom. Ons leef tussen sy eerste en tweede koms. Ons leef in die hede maar is ook toekomsgerig.

’n Mens moet egter so lewe in afwagting op die wederkoms dat jy jou gewone dagtaak nie verwaarloos nie. Hier en nou moet ons ook ons plig doen. Hier en nou moet ons lewe soos Christene, en wel soos Christene met ’n toekomsverwagting.

Die wederkoms impliseer egter ook oordeel. Aan die oordeel kan niemand ontkom nie, en niemand kan dit ontken nie. Die gelowiges vrees egter nie omdat hulle weet: Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie (Joh 3: 18).

Prof Johan Koekemoer

Emeritus