Gemeenskap van heiliges

 

Efesiërs 4: 1-16

 

Die kerk is ’n gemeenskap van heiliges. Hierdie artikel is eers later in die geloofsbelydenis opgeneem. Wanneer dit presies gebeur het, weet ons nie. Dit moes tussen die jare 350 en 500 na Christus plaasgevind het. Die vraag is egter: Wat bely ons hiermee?

In die Latyn is die konstruksie van die sinsnede so dat dit op twee maniere vertaal word: Dit kan gemeenskap met die heilige dinge beteken. Dit kan die gemeenskap van die heiliges onderling beteken. Dit is duidelik dat die Heidelbergse Kategismus in vraag en antwoord 55 albei hierdie moontlikhede in gedagte het.

Onder die gemeenskap van die heiliges word verstaan: Eerstens dat die gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, as lede met die Here Christus gemeenskap en aan al sy skatte en gawes deel het. Tweedens dat elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend. Hier word dus gesê dat die gelowiges gesamentlik en afsonderlik gemeenskap het met Christus en deel het aan sy skatte en gawes. Die mens het – om dit so te stel – gemeenskap met die "heilige dinge". Hul heiligheid is nie iets wat hulle van geboorte af besit nie. Dit is in Christus en sy skatte en gawes opgesluit. Hulle is heilig omdat hulle aan Christus behoort. Hy maak hulle heilig. Dit is om hierdie rede dat daar dan ook sprake kan wees van die gemeenskap van die heiliges onderling.

Daarom stel die Heidelbergse Kategismus dan ook dat die gemeenskap van die heiliges tweedens beteken dat elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend. Dit beteken dus ook gemeenskap van die heiliges onderling.

Prof Johan Koekemoer

Emeritus