Vergewing van sondes, wederopstanding van die vlees

 

1 Korintiërs 15

 

Die artikel oor die vergewing van sondes is een van die belangrikste artikels van ons geloofsbelydenis. Hoe word ’n mens se sondes vergewe? Dra jy iets daartoe by dat God dit doen, of is dit ’n geskenk van God? Die Bybel sê dat Jesus Christus vir ons sondes gely en betaal het. God het reggemaak wat die mens verbrou het. Die mens kon en kan dit nooit self doen nie. God is barmhartig en genadig. Ter wille van Christus dink Hy nooit weer daaraan nie. Dit hoort eens en vir altyd tot die verlede.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis sê in artikel 21 hieroor: Want daar staan geskrywe dat die straf wat vir ons die vrede aanbring, op die Seun van God was, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom; dat Hy soos ’n lam na die slagplek gelei en by die misdadigers gereken is (Jes 53: 5, 9, 12); dat Hy as ’n misdadiger deur Pontius Pilatus veroordeel is, al het dié Hom eers onskuldig verklaar. Hy het teruggegee wat Hy nie geroof het nie (Ps 69: 5); Hy het na liggaam en siel as Regverdige vir onregverdiges gely (1 Pet 3: 18); Hy het die verskriklike straf wat ons sondes verdien, ervaar, sodat sy sweet soos bloeddruppels geword het wat op die grond val (Luk 22: 44), en Hy het uitgeroep "My God, my God, waarom het U My verlaat?" (Matt 27: 46). Dit het Hy alles gely ter wille van die vergewing van ons sondes.

Maar sonde is nie net wat ek verbrou het nie. Die mens se natuur is sondig. Om hierdie rede wil die vergewing van sondes ook sê dat God nooit weer aan my sondige natuur wil dink nie. My sondige natuur het met Christus gesterwe en is saam met Hom begrawe. Daarom sê die Heidelbergse Kategismus oor die vergewing van sondes in antwoord op vraag 56: Dat God, op grond van die voldoening van Christus, aan al my sondes en ook my sondige aard waarteen ek my lewe lank moet stry, nooit meer wil dink nie. Uit genade wil Hy aan my die geregtigheid van Christus skenk sodat ek nooit weer in die strafgerig van God sal kom nie. Die hele mens word verlos; ook my liggaam, my vlees wat tot stof en as vergaan, sal op die laaste van die dae weer verheerlik opstaan.

Prof Johan Koekemoer

Emeritus