Die ewige lewe

 

2 Korintiërs 4: 16 – 5: 9

 

Die Heidelbergse Kategismus sê dat die opstanding van die vlees my vertroos. En die troos is geleë in die feit dat nie alleen my siel ná hierdie lewe dadelik tot Christus, sy Hoof, opgeneem sal word nie, maar ook hierdie selfde liggaam van my, deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel verenig en aan die heerlike liggaam van Christus gelykvormig sal word (vraag en antwoord 57). Die Heidelbergse Kategismus bring dus ons eie opstanding in verband met Christus se opstanding: ...as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore… Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het (1 Kor 15: 17, 18, 20 – 1933-vertaling).

Die vraag na die ewige lewe sluit hierby aan. Die ewige lewe wat ons verwag, is in ’n sekere sin dieselfde as die lewe wat ons reeds het. Daar is net een verskil. Dit is die lewe aan die anderkant van die dood, graf en opstanding. Dit is die lewe wat deur Jesus Christus bevry is van die sonde en van verskillende vorme van verderf. Dit is die lewe in volle gemeenskap met die drie-enige God. Dit is die geluksalige lewe waarvan ons die diepte nou nog nie kan peil nie.

Augustinus het gesê die ewige geluksaligheid bestaan in die sê van amen en halleluja. Amen beteken: Dit is vas en seker, dit is die volle werklikheid. Dit beteken dat wat ons nou in die geloof verwag nie ’n droom is nie. Eenmaal sal God al die trane van ons oë afvee en daar sal geen dood meer wees nie: ...ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan (Op 21: 4). Daarom sê ons ook halleluja. Dit beteken: Loof God. Dit is die element van lofprysing in die ewige lewe. Maar nou sê die Heidelbergse Kategismus tereg dat ek nou al die begin van die ewige vreugde in my hart ervaar (vraag en antwoord 58). In die bekering en wedergeboorte het ons reeds ’n voorsmaak van die lewe by God, die ewige lewe. Ons besit dit nou reeds: Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe (Joh 3: 36).

En na hierdie lewe sal ek die saligheid besit wat geen oog gesien, geen oor gehoor en in die hart van geen mens ooit opgekom het nie – om God daarin ewig te prys (Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 58). So sal ons altyd by die Here wees.

Prof Johan Koekemoer

Emeritus