Genade vir julle en vrede

 

Romeine 1: 1-12; Johannes 4: 9-20

 

Paulus gee in sy brief aan die gemeente in Rome ’n uiteensetting van redding uit genade deur die geloof in Jesus Christus alleen. Die mens wat so gered is, het die ewige lewe. Wanneer Paulus oor die verhouding tussen God en die mense begin praat, sou ons die ergste veroordeling kon verwag, want die mens is niks anders nie as skuldenaar voor God. Paulus kom egter nie met so ’n beskuldiging nie. Inteendeel!

Luister wat sê hy: ...aan al die geliefdes van God wat in Rome is, geroepe heiliges: Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus (Rom 1: 7 – Direkte Vertaling 2014). Aan die einde van die brief (16: 20) sluit hy af met dieselfde belofte: Die genade van ons Here is by julle! Hiermee definieer en omsluit hy die blye boodskap wat hy aan die gemeente bring, en wat ook aan ons as gelowiges gebring word.

Dit is ’n betekenisvolle toesegging wat gemaak word. Daar word aan mense wat sondaars voor God is, maar wat deur Hom geroep is omdat Hy hulle liefhet, gesê dat daar iets is wat eerste genoem moet word: Die liefde, genade en vrede van God word vooraf, vooruit, aan mense gegee! Die gemeente kan verseker wees van die ontferming van God, van sy liefde wat die sonde weggeneem het deur die verlossende intrede van die Here Jesus Christus.

Wanneer ons as gemeente in ’n erediens bymekaar kom, is die eerste betekenisvolle woorde van die bedienaar van die Woord ’n seëngroet in die Naam van die Here. Dit is ’n wonderlike voorreg vir ’n mens om dit te mag doen, en dit is eweneens vir gemeentelede ’n voorreg om telkens opnuut te kan hoor en verseker te kan word dat God eerste na ons toe uitgereik het – dat Hy dit in liefde gedoen het, dat Hy vergewing van sondes gee, en dat Hy vir ons so genade en vrede gee! As u dus weer in ’n erediens is en hierdie woorde hoor, laat dit nie maar net by u verbygaan nie, maar aanvaar die toesegging van God, uitgespreek deur ’n mens, met ’n biddende en dankbare hart.

Ds Wilhelm Steyn

Emeritus