Selfkennis

 

Romeine 3: 9-23

 

’n Gedig van NP van Wyk Louw, Ballade van die bose, wat vertel van die bose wat die mens se permanente metgesel is, begin en eindig so: Ken jy my nou? Het jy die spieël gesien, en ken jy jou? Dit is belangrik vir ’n mens om jouself te ken, só te ken soos jy werklik is, want jy staan in die laaste instansie in verantwoording voor God.

Paulus gebruik beelde uit die Ou Testament om die mens deur die eeue te beskryf, heidene en Jode, en kom tot die slotsom dat hulle almal skuldig is voor God. En die Jode as verbondsvolk is nie anders as die heidene nie. Dit is vir die mens moeilik om homself as sondaar te sien en meer nog: om dit te erken. Paulus noem wat die kenmerkende van alle mense is, of hulle nou tot die Jodedom behoort, of uit die heidendom is. Oor elkeen se lewe en wese kan daar net een woord geskryf word: SONDAAR! Dit is die spieël wat Paulus voor elkeen hou sodat ons onsself kan leer ken en iets daarmee kan maak, in plaas daarvan om dit te ontken en eiesinnig ons pad, weg van God af, te loop.

Uit onsself kan ons egter nie iets aan hierdie jammerlike situasie doen nie. Die edelste bedoeling en ywerigste wetsonderhouding kan nie die sonde wegneem nie. Die ewige verlorenheid wag vir ons elkeen. Maar moet dit ons nou moedeloos maak?

Voor die een wat sy sonde en onvolmaaktheid ootmoedig voor God erken, word nie net die spieël gehou om homself te sien nie, maar word die beeld van Christus afgeteken: Christus, die Seun van die Allerhoogste God, wat uit die hemel neergedaal het en volmaakte mens geword het om as mens die straf wat oor die sondaar moes kom, op Hom te neem. Sý verdienste word aan die gelowige mens toegereken asof die mens self vir sy eie sonde geboet het. Die mens kan dit in geloof, wat gawe van God is, aanvaar. Die aaklige beeld van onsself wat ons in die spieël sien, word oordek deur die verdienste van Jesus Christus.

Ds Wilhelm Steyn

Emeritus