Vrede tussen ons en God

 

Romeine 5: 1-11

 

Daar is sekerlik een saak wat ’n mens onbeskryflik bly kan maak en laat jubel, en dit is die feit dat daar vrede bestaan tussen mens en God. En daardie vrede is nie net ’n teoretiese vrede nie, maar wel werklike vrede, bewerk deur die Verlosser, Jesus Christus. Hierdie vrede skenk God uit genade aan mense. Sonder hierdie daad van God is daar totale verwydering en vervreemding – ja, vyandskap – tussen God en mens, want die regverdige God kan nie anders nie as om die skuldige mens te veroordeel en te straf.

Maar God spreek vry, onthef die mens van skuld en, meer nog, gee aan die mens vrede. Dit is waarom Paulus van blydskap kan uitjubel: God het ons dan nou vrygespreek omdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus (Rom 5: 1). Jesus Christus het egter nie net die moontlikheid tot vrede gegee nie, so asof ’n verstopte waterpyp oopgemaak is nie. Hy neem ons as’t ware aan die hand en lei ons daarin soos ons in die bekende Psalm 23 oor die ontfermende leiding van God kan sing: So sag en soet is sy alwyse leiding langs frisse waterstroom en groene weiding (Hersiene Psalms en Gesange 1978).

Dié vrede is nie iets wat eers eendag aan die gelowige mens gegee gaan word nie, maar is ’n werklikheid in die hier en die nou. Ons kan God reeds nou leer ken en in ’n lewende verhouding tot Hom leef. In hierdie bedeling van genade en vrede vind die gelowige ’n vaste staanplek. Paulus skryf aan die Korintiërs oor dié staanplek as hy sê ek herinner julle... aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het... en waarin julle ook gevestig staan (1 Kor 15: 1).

God se vrede gee ons ook moed om Hom te midde van swaarkry en neerdrukkende omstandighede te loof en om moed te hou. Dit maak ons ook toekomsgerig. Dit laat ons uitsien na die dag wanneer ons God sonder belemmering sal kan dien en eer. Mag die gesindheid van blye dankbaarheid oor die vrede wat God bewerk het, ons lewe kenmerk!

Ds Wilhelm Steyn

Emeritus