Dood vir die sonde

 

Romeine 6: 1-14 en 8: 1-17

 

Paulus praat met mense van ’n heidense agtergrond wat eers afgode gedien het en tot die Christendom bekeer is. Maar wat dan nou van ons wat gelowige ouers gehad het, wat as kinders gedoop is en wat in gelowige gesinne opgegroei het en saam met die kerk geleef het – kan dieselfde dinge wat vir die gemeente in Rome van daardie tyd gesê is, ook vir ons gesê word?

Die verandering van dood na lewe het nie gekom by die bekering van die heiden tot die Christendom nie. So eenvoudig is die saak nie, en so goedkoop is God se genade nie, naamlik dat dit van ’n wilsbesluit van ’n mens sou afhang nie. Die dood wees vir die sonde van die gelowige het gebeur toe die Verlosser aan die kruis gesterf het. Hy het dáár vir die sondeskuld van die mens geboet en volkome aan God se eis van vergelding voldoen. Daarna kon Hy uit die dood opstaan en het sodoende die opstanding van ’n mens uit die dood moontlik gemaak. Christus se oorwinning oor die dood en die lewe waartoe Hy opgestaan het, het ’n gereinigde lewe vir mense beteken. In genade, deur die werking van die Heilige Gees, het God die voldoening van Christus aan mense toegeken asof die mense self vir hul sondeskuld gesterf en daarvoor betaal het.

Die dood wees vir die sonde gaan dus nie vir ons in die eerste plek om die aflegging van eie sondes in die verlede en ’n gereinigde lewe daarna nie. Dit is die belewing van God se genadige ontferming en verkiesing dat ons nie vanweë die sonde waarin alle mense gebore word en daarom aan die verdoemenis onderworpe is, vir ewig verlore is nie. Bo ons dood wees vir die sonde en ons nuwe lewe, staan dus die genade van God. Die genade het die sonde ontwortel. Die verloste mens is dood vir die sonde en kan net nie meer dat die sonde mag oor hom uitoefen nie, want God het van die verlostes nuwe mense gemaak vir wie Hy nou Vader en kragbron is.

Dit is dus ondenkbaar dat die kinders van God weer slawe van die sonde sal wees. Daarvoor dank ons God deur ’n strewe om Hom in alles te gehoorsaam.

Ds Wilhelm Steyn

Emeritus