Dankbare lofprysing

 

Romeine 8: 31-39, 11: 33-36 en 16: 25-26

 

In die brief aan die Romeine gee Paulus ’n sistematiese uiteensetting van hoe God die verlossing bewerk het. Paulus is diep in die hart gegryp deur die blye boodskap wat hy kan verkondig: God verklaar uit genade die skuldige mens onskuldig deurdat Hy die verdienste van Jesus Christus aan die mens toeken.

Dit is Paulus se hoogste strewe om mense te laat deel in die blydskap wat die genade bring. Daarom doen hy dit drie maal in sy brief met ’n uitbundige jubeling – telkens aan die einde van ’n hoofdeel, en so sluit hy ook jubelend sy brief af. Hy eindig met ’n Amen wat nie, soos baiekeer gedink word, beteken Dit is nou klaar nie, maar wat ’n uitdrukking is van sy vertroue op God, met die bede: Mag dit waarlik so wees, tot in ewigheid!

Die onbegryplike genade wat met die koms van Christus geopenbaar is, moet so ver as moontlik bekend gemaak word. Die sluise van ontferming is as’t ware oopgetrek om oor die tradisionele grense van die Joodse volk te vloei, die heidenwêreld in, om van baie mense verloste, gehoorsame kinders van God te maak. Soos die sekulêre invloed van die Romeinse kultuur oor die wêreld kon versprei, is die evangelie op dieselfde manier deur die gelowiges wat onder meer van die inhoud van hierdie brief kennis gehad het, verder versprei.

Die kerk van vandag is steeds die draer van die blye boodskap en kan saam met Paulus jubel oor die dade van God. Dit beteken dat elkeen wat na byna twee eeue Paulus se verkondiging van die evangelie lees, saam met hom bly moet wees. Ongelukkig is dit so dat die geloofsblydskap by baie gelowiges nie so sigbaar is nie. Dit sal goed wees as die betekenis van die lofliedere wat in die erediens gesing word goed oordink word. Die Liedboek met kosbare lofpsalms en ander lofliedere behoort daarom een van ons kosbare skatte te wees wat ons nie net in die erediens op die liedbord sien nie, maar wat ook onder meer in ons gereelde stiltetye aandag kry en oordink word.

Ds Wilhelm Steyn

Emeritus