Wat is die mens dan?

 

Psalm 8

 

Wie is ek? Ek is ’n boer geseën met ’n goeie oes en gesonde vee. Ek is ’n sakeman wat vir my familie kan sorg. Ek is ’n ma wat voluit vir my kinders kan leef. Ek kan die potensiaal in ander ontgin om suksesvol te wees. Ek leef my passies elke dag ten volle uit en doen waarvoor ek lief is. Ek het genoeg om van te leef en is in beheer van my eie lewe. En as ek nie is nie? Wat is die mens dan?

Wanneer ons met die nuutste tegnologie die ruimte verken, word ons met verwondering nederig stil. God het die hemelruim onbeskryflik geskep. Wat is die mens dan in vergelyking daarmee? Die maan is 384 400 km van die aarde af en die son 149 600 000 km. Afstande in die hemelruim word in ligjare gemeet, waar een ligjaar 9 460 528 400 000 km lank is. Ons sonnestelsel is deel van die Melkwegstelsel. Dié sterrestelsel is nie eens die grootste, middelste, mees indrukwekkende van sterrestelsels nie, maar meet tog ’n duiselingwekkende 100 000 ligjare in deursnee. Wat is die mens dan dat die Skepper steeds aan hom dink?

Die Skepper van die makroruimte (hemelruim) het jou as mensekind (mikroliggaam) op ’n wonderbaarlike wyse kunstig aanmekaar geweef. 96 560,64 km are is gevorm waardeur jou bloed vloei. Een miljoen senuwees van die breinstam is geskep om paarsgewys met die een miljoen senuwees van jou oog te verbind om sig moontlik te maak. Elke kern, proteïen, senuweepunt, impuls, hormoon, sintuig, álles is deur jou Skepper gevorm. Wat is die mens dan dat die Skepper steeds na hom omsien?

So indrukwekkend en onbeskryflik as wat die ruimte is, soveel te meer is die sorgvuldigheid en liefde waarmee jy geskep is. Jy is na die beeld van God geskep, net minder as ’n hemelwese. Jy is die kroon van God se skepping en moet verantwoordelikheid neem vir die skepping. Leef daarom elke dag met verwondering, dankbaarheid en verantwoordelikheid.

Ds Joleen Joubert

Wapadrant