Lewegewende waterstroom

 

Esegiël 47: 1-12

 

Het die waterpyp in jou omgewing al gebars? Dan sukkel jy om die toiletbak met ’n emmer te vul, of om tande te borsel met ’n slukkie water. Jy moet twee keer dink voor jy nog iets drink. Kort voor lank moet jy by vriende gaan stort. Dit verontrief almal. Almal se programme is omvergewerp en almal is negatief. Sonder water kan ons nie leef nie! Dan word die pyp en die watertoevoer herstel. Jy is bly, maar weer krapperig as die water eers vir ’n rukkie bruin is. Maar gou is dié situasie vergete en aanvaar jy weer die vars lopende water as vanselfsprekend. Alles is terug na die besige normaal.

Esegiël se visioen handel oor die nuwe tempel in Jerusalem waaruit ’n stroom lewegewende varswater gevloei het tot in die Dooie See. Die Dooie See se water het ’n baie hoë soutkonsentraat, daarom is daar geen visse of enige ander vorm van lewe daarin nie. Die varswater wat vanaf die tempel vloei, simboliseer die lewegewende aard van God se teenwoordigheid en betrokkenheid by Israel. Wanneer hierdie simboliese stroom water tot in die Dooie See vloei, word die soutwater vars. Daar kom nuwe lewe in die Dooie See en die vissermanne kan selfs begin visvang! God gee lewe waar daar eens dood was.

Dit is ook die boodskap van die Nuwe-Testamentiese verkondiging van Jesus se opstanding. Die evangelie leer dat die lewegewende stroom van God se genade ons bereik het met die Christusgebeure. Wie dit glo, ervaar lewe in die regte verhouding met God. Ons ontvang so nuwe en ware lewe! Die probleem is dat ons so gewoond raak aan die boodskap dat ons dit as vanselfsprekend aanvaar en dit nie aldag waardeer of ons lewens daardeur laat bepaal nie. Inteendeel: Met ons optrede vertroebel en besoedel ons hierdie lewegewende stroom eerder as om die suiwer lewenswater deur te gee met dade wat spreek van liefde en genade. Waardeer die evangelie en leef die ware lewe, ook tot heil van ander!

Ds Joleen Joubert

Wapadrant