Onvoorwaardelik en sonder terughou

 

Markus 10: 13-16

 

Kinders raak vreemde goed kwyt, veral die kleintjies: Daar is mos nie skool in die hemel nie, nè? Jesus, ek was by ’n troue gewees en die mense het mekaar voor in die kerk gesoen, is dit okay? Lot se vrou is bedags ’n soutpilaar en saans is sy ’n vuurbal wat lig gee vir die Israeliete. Moses is dood voor hy Kanada kon ingaan. Jesus, Mamma het die Onse Vader teen die muur geplak. Amen.

Kinders. Onskuldig en vreesloos in die geloof staan hulle elke dag op met meer vrae as waarvoor ons antwoorde het. Hoeveel keer het jy nie al verleë en verstom gestaan na so ’n vraag of opmerking nie? Kinders se onvoorwaardelike vertroue in dit wat ons hulle leer en hul slaafse navolging van ons voorbeeld kan ons soms tot stilstand bring. Tog maak Jesus die gesindheid van kinders die voorwaarde vir toegang tot die koninkryk van God! Hoe moet ons dit verstaan?

Jesus sê dat mense die koninkryk van God soos kinders moet ontvang. Die kinders in die teks word nie deur hul ouers na Jesus gebring nie, maar deur die mense, want hulle was waarskynlik straatkinders sonder heenkome. Hulle het geen status of plek in die samelewing gehad nie en die godsdiensreëls het hulle toegang tot die tempel, en daarmee tot God, verbied. Jesus wil dat mense verstaan dat toegang tot God se liefdesheerskappy nie ’n saak van verdienstelikheid is nie. Alleen dié wat hul eie onwaardigheid erken en net op God se genade vertrou, is gereed om deel te wees van die koninkryk van God.

Wanneer volwassenes met ’n gesindheid van onverdienstelikheid voor God leef en net op God se genade reken, stel hulle die regte voorbeeld aan kinders. Dan leer kinders dankbaarheid, diensbaarheid, om barmhartig te wees en te vergewe. Sulke mense, groot en klein, se lewens het die regte betekenis gekry en verhinder niemand toegang tot God nie.

Gebed

Vader, laat ons só op U vertrou en ’n voorbeeld stel sodat ons ons kinders en medegelowiges nie verhinder om na U te gaan nie.

Ds Joleen Joubert

Wapadrant