Kitsgeloof?

 

Filippense 4: 1- 11; Markus 13: 13

 

Daar is geen kortpad na volwassenheid nie. Geen mens word volwasse gebore nie. Dit neem ’n hele klomp jare om volwassenheid te bereik. Ons hou die vrugtebome dop en wens die vrugte ryp, maar dit sal ’n hele seisoen se groei neem voor die vrugte ryp is. Filippense 1: 6 lui: Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom. (Kyk ook Ef 4: 13.)

Ons leef in ’n tyd waar alles kitsoplossings vra. Kitskos, kitssportbyeenkomste, kortpaaie. Een gesprek en my huweliksprobleem van 15 jaar moet opgelos wees. Een dagseminaar en my tekortkominge verdwyn en ek stap as volmaakte mens daar uit.

Die Here se "tydskedules" lyk nooit soos ons programme nie. Ons is selfs soms ongeduldig met God as dinge nie vorder soos ons beplan het nie. En tog was die Here nog nooit laat nie. Die Prediker sê dat elke ding op aarde sy tyd het. Aanvaar dus die deurleefde wyse waarop God jou na Hom toe lei. Daar bestaan eenvoudig nie iets soos "tien maklike stappe tot geloofsvolwassenheid" nie. Daarom gebruik die Here die lewe om jou voor te berei op die ewige heerlikheid wat op jou wag. Dit kan selfs ’n moeisame weg wees wat dalk meer dikwels op die randjie van twyfel en ongeloof langs kan loop as dat dit egalig voortsnel na ons eindbestemming toe. Maar dié wat volhard, is begenadig en sal die volheid van geloof smaak.

Daarom, as ons weer en weer oor ’n aangeleentheid na aan ons hart bid, moet ons besef die Here hoor en het ook daarmee sy tyd. Dis opstandig om dan te sê die Here luister nie. Dit is nie so nie. Wanneer Habakuk ongeduldig raak met die Here, sê die Here vir Habakuk: Jy moet net geduldig bly wag as dit nie gou kom nie, want dit kom beslis, dit sal nie uitbly nie (Hab 2: 3).

Miskien is jy nog nie by die bestemming waar jy wou wees nie. Tog is jy nie waar jy was nie. God is nog lank nie klaar met jou op die pad wat na jou heil lei nie.

Ds Buddie Dupper

Piet Retief/Pongola/Amsterdam