Ons moet mekaar liefhê

 

1 Johannes 3: 11-24

 

Sekerlik een van die grootste uitdagings vir die kerk is om so voor God se aangesig te leef dat die hele wêreld Hom deur ons optrede kan leer ken. Oor dekades heen is gelowiges en gemeentes geneig om kerkwees te sien as die doen van verskeie dinge. In die gemeente word verwag dat lidmate sekere dinge sal doen soos eredienste bywoon, dankoffers gee, by funksies help en vele meer. En wanneer ons almal al die dinge gedoen het, is ons ’n gemeente, of so dink ons. Dus geweldige klem op wat gedoen moet word. Die idee wat die wêreld van die kerk het, is daarom dat dit die plek is waar jy baie dinge moet gaan doen.

Maar in Matteus 5 lees ons dat gelowiges sout vir die aarde en lig vir die wêreld moet wees. Toegegee, God vra dat ons sekere dinge sal doen. Maar nie tot elke prys nie.

’n Gemeente kan besluit om ’n fondsinsameling te hou en in die uitvoer daarvan vergeet om te wees wat hulle moet wees. In die proses moet ons tog nie op mekaar trap, mekaar beskinder, ignoreer, verwyt of kwaad word en van mekaar vervreem raak nie. Of daar word besluit om nuwe matte in die kerk te lê, maar die gemeente skeur omdat hulle oor die kleur daarvan verskil. Sulke dinge gebeur in gemeentes en in die Kerk, en selfs in huwelike en gesinne. Ons wou pragtige dinge doen, maar het vergeet om te wees wat ons moet wees. Ons het vergeet dat ons eerstens geroep is om liefdevolle broers en susters vir mekaar te wees.

Eers wanneer ons is wat God wil hê ons moet wees, kan ons gaan doen wat God van ons vra en wat ons hand vind om te doen. Dan eers sal daar ware liefde en harmonie, waardering, bemoediging en wedersydse respek wees tussen diegene wat veronderstel is om die Here saam te dien.

Ds Buddie Dupper

Piet Retief/Pongola/Amsterdam