Soos pyle in die hand…

 

Psalm 127

 

In Psalm 127 sê Salomo dat kinders deur die Here gegee word. En dan vergelyk hy kinders (seuns) met die pyle in die hand van ’n krygsman.

Oorloë moes gewen word en dit het geverg dat die beste boogskutters ingespan word. Met gebrekkige toerusting was die stryd egter verlore. Daarom is groot moeite gedoen om die pyle perfek voor te berei. Net die beste materiaal is gebruik. Elke boogskutter het moeite gedoen om die pyl so reguit, gebalanseerd en skerp moontlik te vorm. Ure se toewyding om ’n koker met net die beste pyle te vul. Die boogskutter kon topfiks en volmaak opgelei wees, maar met ’n krom of ongebalanseerde pyl was hy magteloos. ’n Krom pyl tref nie die teiken nie. Ongebalanseerde pyle kon skeef trek en eie makkers tref. ’n Stomp pyl kon nie deur pantser dring nie.

Aan elke ouerpaar word kinders toevertrou. Die Here gee hulle in ouerhande wat die vormingswerk in daardie kind se lewe sal moet doen. ’n Dankbare ouer aanvaar sy kind as die beste geskenk uit die hand van God. Besef ons dat klein kindertjies al gevorm kan word om nuttig te wees? Kinders moet van kleins af reg geslyp en gevorm word. Kinders kan vroeg al gebalanseer en skerp gemaak word as instrumente in God se hand. Ouers bly verantwoordelik voor God staan oor hoe hulle hul kinders gevorm en afgewerk het om te wees wat Hy wil hê hulle moet wees.

Verwaarloosde kinders kan nie rigting kry nie en mis hul lewensdoel. Ontwrigte kinders is ongebalanseerd en val terug op die huisgesin en die samelewing. Afgestompte kinders is bang vir die lewe en voel onwaardig as mense. Hulle verloor moed en sukkel om bo uit te kom. Sal die Groot Boogskutter jou werk goed vind? Vervalle gesinne is alledaags. Kinders betaal die prys. Huweliksonmin, kindermishandeling, geloofsverval. Hoe vaar jy as vakman in God se diens?

Kom, gelowige ouers, kom ons aanvaar die uitdaging om kinders te vorm wat nie net hul lewensdoel sekuur tref nie, maar ook die teiken wat ons Hemelse Vader vir hulle bedoel het, en dit is om vir ewig deel van sy Koninkryk te wees.

Ds Buddie Dupper

Piet Retief/Pongola/Amsterdam