Soos klei in God se hande

 

Jeremia 18: 1-6

 

Die uitdrukking iemand is soos klei in jou hande is nie positief nie. Dit beteken jy kan iemand manipuleer wat willoos en swak is, wat nie self kan besluit of standpunt inneem nie. As Jeremia nou sê mense is soos klei in God se hande, is dit ’n troos? Of beteken dit dat mense tog nie beheer het oor die lewe nie en maar net wag vir die volgende hou om te val?

Jeremia oordeel die eiewillige volk van God. Sy profesieë word egter nie waar nie en hulle spot met hom. Hy voel verneder en kla by God, wat hom na die pottebakker se huis stuur. Alledaagse mensewerk word ’n voorbeeld van hoe God te werk gaan. Die pottebakker was juis besig op die draaiskyf. Soms misluk die pot. Dan druk die pottebakker die klei inmekaar en begin weer voor. As dit lyk of die pot mooi gaan uitkom, het die pottebakker eindelose geduld. Die pottebakker vernietig nie graag sy handewerk nie, maar wil liewer dat dit mooi en bruikbaar word. As die pot misluk, word die klei weer gebruik.

Die volk wou nie uit God se hand leef nie. Hulle wou hul eie kop volg. Ons doen dit ook soms. Ten spyte daarvan bly God met ons werk, bly ons vorm, bly geduldig met ons. As ons regtig nie word wat ons behoort te wees nie, begin God weer van voor af. God laat vaar nooit die werk van God se hande nie. Om soos klei in God se hande te wees, maak ons nie swak of neem ons vryheid en keuses weg nie. In God se hande, dit is die beste plek vir ons. Net God kan van ons ’n kunswerk maak – die heel beste wat ons kán wees. Dit is tog wat ons wíl wees?

Gebed

Doen slegs u wil, Heer, u wil met my. U, Pottebakker, met my, die klei. Vorm my en maak my net soos U wil. Op U slegs wag ek, nederig en stil.

Prof Yolanda Dreyer

Universiteit van Pretoria