Deel, gun en gee

 

Matteus 20: 15b

 

Onregverdig, protesteer die menslike aard – dat ander kry wat hulle nie verdien nie en ek minder het. Jaloesie en vergelyk, is die mens se aard, veral as dit met ander beter gaan as met my. Ek en myne is die middelpunt van my bestaan. Om te deel, te gun en te gee, kom nie vir mense natuurlik nie.

In die Joodse Talmoed, onderwysings wat die Ou Testament aanvul, in ’n gedeelte met die titel Seëninge, is daar ’n verhaal soortgelyk aan hierdie gelykenis. Rabbi Zeira hou die begrafnisdiens van Rabbi Bun wat op 28 oorlede is. Hy vertel van ’n koning wat arbeiders huur om in sy wingerd te werk. Een jongman het besondere potensiaal en die koning besluit om hom vir die res van die dag met hom saam te neem. Aan die einde van die dag betaal hy die jongman net soveel as die ander. Soos die werkers in die gelykenis, was hulle ontevrede. Die koning sê: Ook al het hy min fisiese werk gedoen vandag, het hy eintlik méér gedoen, want hy het met my saamgeloop. Rabbi Bun het jonk gesterf. Hy het nie veel tyd gehad om vir God te werk nie, maar hy het méér gedoen as baie ander. Hy het met God saamgeloop. Hy het naby God geleef.

Om naby God te leef, is om die regte gesindheid te hê. Dit is om met Jesus as mentor en reisgenoot saam te loop. Met Jesus se waardes en gesindheid oorkom ’n mens jou natuurlike ek-gesentreerdheid en jaloesie op wie meer het as jy. ’n Dankbare hart vol van God se Gees kán deel, gun en gee.

Vervul my hart met dankbaarheid waar ek nou tot U nader;

verkwik deur u weldadigheid, kom ek tot U, my Vader.

Hoe juig my hart ’n danklied uit vir hierdie nuwe hede;

my eerste lied is dankbaarheid, u lof my eerste bede.

(Gesang 556: 1)

Prof Yolanda Dreyer

Universiteit van Pretoria