Sien jy die amandelstok?

 

Jeremia 1: 4-11

 

Jeremia, ’n jongman uit ’n priesterfamilie, word deur God geroep. Vanself-sprekend sou die seun van ’n priester ook priester word. Maar nie Jeremia nie. Hy is spesifiek deur God geroep vir sy taak. Ons dink soms dit is vanselfsprekend dat kinders van gelowiges ook gelowiges sal wees, maar elkeen word spesifiek geroep vir ’n eie besondere taak.

Jeremia was maar 17. Hy reageer op God se roeping met iets soos ag. Ag nee, dit kan nie! Hy dink hy is te jonk. Die woord vir jonk beteken hier meer as net ouderdom. Dit wil sê: Ek is nie geoefen nie, ek het nie opleiding nie, ek sal dit nie goed genoeg kan doen nie. God antwoord nie daarop met die skerp nee (lo in Hebreeus) nie, maar met die sagter nee (al) – iets soos nee wat, moenie so sê nie. God verstaan dat Jeremia skrik vir sy roeping en troos hom. Ek sal by jou wees elke tree van die pad. God raak aan sy mond om letterlik God se woorde in sy mond te lê. Sulke woorde kan jy nie binnehou nie. Dit moet uit. Roeping is nie altyd aangenaam nie. ’n Mens is soms ongewild as jy sê wat ander nie wil hoor nie. Die profete was soms in lewensgevaar. Jesus het sy lewe verloor.

Op God se vraag wat hy sien, antwoord Jeremia: Ek sien ’n amandelstok. Toe weet God dat Jeremia sy roeping verstaan. Uit die doodsheid van die winter blom die wit bloeisels van die amandelboom. Lewe uit die dood, nuwe lewe vir almal. Dit is se boodskap vir die mense van Jeremia se tyd. Dit was Jesus se boodskap vir die mense van sy tyd. Dit is God se boodskap vir ons tyd. Ons roeping is om die boodskap te bring. Al wat ons nodig het, is ’n gewillige hart. God sal self die woorde gee. God se Gees sal die krag gee. Die vraag is: Sien ons die amandelstok?

Gebed

Hier is ek, Here. Ek is gewillig.

Prof Yolanda Dreyer

Universiteit van Pretoria