’n Ander uitkoms

 

Jesaja 55: 1-3

 

’n Mens kan nie aanhou om dieselfde ding te doen en dan ’n ander uitkoms verwag nie, hoor ’n mens deesdae dikwels. Verandering is nodig vir ’n beter uitkoms. Maar verandering voel nie altyd gemaklik nie en daarom vermy ’n mens dit. Verandering is eintlik deel van ons geloof. Elke dag is ’n nuwe begin met God. Want elke dag kom ons agter wat alles verkeerd gaan in ons lewe. Wat ons sê, doen en dink, is nie altyd reg of goed vir onsself en vir ander nie. Ons weerspieël nie altyd Jesus se gesindheid nie. Ons bekommer ons en is bang, in plaas van om op God te vertrou.

’n Nuwe begin is moontlik omdat ons ’n nuwe verbond of ooreenkoms met God het wat vir altyd geldig sal wees, sê Jesaja. Die mense in Jesaja se tyd het positiewe verandering beleef. Hulle is bevry uit ballingskap en kon teruggaan huis toe. God het belowe om vir hulle te sorg en hulle te beskerm, saam met hulle te reis op hul lewenspad. Om positief en opbouend te leef, sê Jesaja, kom nader en luister na God.

Baie mense sê: As ek iets reg gedoen wil hê, doen ek dit self. Om op God te vertrou, beteken om juis nie op eie krag en vermoëns staat te maak nie. Om goed en reg te lewe, is om dit nie self te doen nie, maar om jou lewe in God se hande te gee. Dan sal die uitkoms die beste wees – beter as wat jy self kan doen. By God is alles wat ’n mens nodig het en dit is verniet. Waarom betaal vir wat niks werd is nie? Waarom hard werk vir wat nutteloos is? Kom uit die ballingskap van uitsigloosheid, moedeloosheid en moegheid, van negatiwiteit en bekommernis. Kom na God toe, luister en lewe. Wie die uitnodiging om in God se liefde te lewe aanvaar, sal die moed en krag vind vir verandering: om anders te voel, te praat, te dink en te doen.

Prof Yolanda Dreyer

Universiteit van Pretoria