Sout en lig vir die wêreld

 

Matteus 5: 13-16

 

Jesus gee twee mooi beelde wat verduidelik hoe dissipels is en leef. Julle is die sout vir die aarde en die lig vir die wêreld. Daarmee sê Hy: Julle is vir die wêreld bedoel. Nie Julle behoort aan die wêreld nie.

Die geure eie aan elke kossoort kom beter na vore as daar ’n bietjie sout by is. Só verduidelik Jesus vir sy dissipels hoe ’n burger van die Koninkryk se lewe werk. Soos sout: Dit gee smaak aan dinge. Dit werk verrotting teë. Dit bring die Godgegewe geure na vore. Die sout werk byna ongesiens, maar kragtig!

Só werk dissipels om die Godgegewe nuanses van menswees na vore te bring. Waar dissipels só werk, dink mense: Jy laat my onthou dat God my raaksien en in my werk. Ek is ’n geliefde kind van God, wat God se hart baie bly maak – nes Jesus. Die klein dingetjies wat jy doen omdat jy by Jesus leer hoe om te lewe, is deel van ons sout wees.

Jesus sê ook hulle is die lig vir die wêreld. Die kers moet niks anders as ligdraer probeer wees nie. Die eintlike lig is Christus. Sonder lig weet jy nie presies waar jy, ander en dinge is nie. Dis chaos. Met lig by eindig die chaos en kom daar orde en sin. Net so kry mense se lewens sin wanneer Christus se lig daarop val. Dissipels moet hierdie lig laat skyn! Hoe? As die mense dan julle goeie werke sien, dan sal hulle julle Vader in die hemel verheerlik.

Ds Gys Els

Seestergemeente Brackenhurst