Laat jou "ja" eenvoudig "ja" wees

 

Matteus 5: 33-37

 

Ons samelewing het al ’n kuns daarvan gemaak om weg te kom met leuens. In die film Fried green tomatoes "sweer" die dominee op sy eie kopie van Moby Dick – terwyl die regter dink dis die Bybel. Nou kan hy maar lieg! As kinders het ons net ons vingers agter die rug gekruis, dan hoef jy nie die waarheid te praat nie.

Ek dink Jesus se woorde is van toepassing op alle pogings wat mense aanwend om "gewig" by hul woorde te sit: Ek sweer! Ek belowe jou! Ons oordryf of dreig, sommige probeer items verkoop deur kaal vrouens te gebruik om kopers te lok.

Jesus sê dat wanneer ons meer doen as om net die waarheid te praat, is dit van die Bose. Die Bose is dus nie iets of iemand wat jou mond laat skuim en jou met ’n vreemde stem laat praat nie. Ons boosheid maak dat ons mense wil dwing om te doen wat ons wil hê hulle moet doen, en dat ons dan enige metode gebruik om ons wil af te dwing, selfs leuens en bedrog.

Ons moet dus verander. Laat God toe om jou hart en wil oor te neem, en sê dinge net eenvoudig soos dit is.

Ds Gys Els

Seestergemeente Brackenhurst