Volmaak, soos jul hemelse Vader

 

Matteus 5: 38-48

 

Vers 48 vat eintlik Jesus se hele bergpreek saam: Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is. Omdat mense dit deur die eeue verkeerd verstaan het, lei dit tot moedeloosheid – ek kan dit nooit regkry nie; traak-my-nieagtigheid wanneer mense dink dis nie veronderstel om nagekom te word nie; of hoogmoed wanneer iemand dink hulle doen dit, en ander doen dit NIE.

Volmaak hier is nie "morele perfektheid" nie, dit is "funksionele volheid". Dinge is soos God dit bedoel het, en God het bedoel dat ons nie wraak neem wanneer ons te na gekom word nie. Ook nie net in verhouding tot die skade nie, soos ’n oog vir ’n oog. Wanneer iemand jou uit minagting op die linkerwang klap, draai jou ander wang sodat die geweld duidelik uitgedaag en so eerloos en kragteloos gemaak word. Wanneer jou vyand – in dié geval ’n Romeinse soldaat wat jou land met geweld oorneem – jou dwing om sy goed te dra, dra dit twee maal so ver. So neem jy beheer van die situasie en oorwin jy brute mag met welwillendheid.

Ons kan dit regtig net doen wanneer ons oefen om die grondwet en grondbeginsels van God se koninkryk in ons lewens te laat waar word. In God se koninkryk doen ons nie net wat "menslik" is nie. Jy groet nie net dié wat jou groet en is nie net met jou vriende vriendelik nie. Jou optrede moet wees: volmaak soos jou hemelse Vader volmaak is. Jou gedrag moet wys waarom God jou deel van sy koninkryk gemaak het en die liefde waarmee God dit gedoen het. Só wys ons iets van God se volmaakte optrede wat gebore word uit volmaakte liefde.

Ds Gys Els

Seestergemeente Brackenhurst