Geloofsmoed

 

2 Timoteus 1: 1-14

 

Ander verwag soms van jou om nie volgens jou geloofsoortuigings op te tree nie. As jy dit wel doen, is jy skynheilig en loop jy met die Bybel onder jou arm. Veral jongmense ervaar heelwat groepsdruk hieroor en deins dan terug voor die uitdaging om anders te wees en daaroor verwerp te word. Iets hiervan sien ons in ons Skrifgedeelte.

Die pastorale briewe in die Nuwe Testament (1 en 2 Timoteus en Titus) is onder Paulus se naam geskryf (pseudepigrafiese geskrifte) om lank na Paulus se leeftyd riglyne aan jong dominees te bied. Pseudepigrafie was destyds ’n aanvaarbare manier om gesag te verleen aan geskrifte deur dit voor te hou as geskryf deur ’n bekende persoon. Waarheid en gesag hang egter nie van outeurs af nie, maar van die verkondiging in die geskrifte.

Paulus en Timoteus funksioneer as twee karakters in ’n verhaal wat die agtergrond vorm van die Timoteus-briewe. Die verleentheid van jong dominees oor die andersheid van die Christelike geloof en die gemeenskap se afwysing daarvan was ’n probleem. Geloof word voorgestel as ’n Godgegewe vuur. Wanneer jong dominees terugdeins en hulle skaam vir die evangelie, kwyn die geloofsvuur. Die voorbeeld van gelowige voorouers is die aanblasing wat die sukkelende vuur weer sterk laat brand. Dan ervaar gelowiges krag, liefde en selfbeheersing en deins hulle nie meer terug nie.

Vervolging en gevangenskap was ook iets waarvoor jong dominees hulle geskaam het. Jong dominees word opgeroep om nie terug te deins vir enige vorm van swaarkry wat met hul dienswerk verband hou nie, maar om te fokus op die verlossing wat Christus verwerf het en te vertrou dat Hy die evangelie en hul roeping in stand sal hou. Daarby kan Paulus se voorbeeld van lydsaamheid hulle bemoedig. God sal hulle krag gee om te volhard deur lyding heen.

Deins ons nie gereeld terug eerder as om volgens ons geloofsoortuigings te handel nie? Dan moet ons die Godgegewe vuur aanblaas voor dit uitbrand en op God vertrou vir krag om te volhard.

Ds Marius Bacon

Warmbad