Hulle het nie geluister nie

 

Rigters 6: 1-10

 

Die inleiding tot die verhaal van Gideon beskryf die agtergrond waarteen hy geroep word. Die Israeliete doen wat verkeerd is in die oë van die Here en hulle word vir ’n ronde sewe jaar lank oorgegee aan die vernederende plundering van die Midianiete.

Die Midianiete was ’n gedugte vyand. Saam met die Ismaeliete was hulle die eerste kameeltemmers. Dit het hulle die vinnige manne van die Ou Ooste gemaak. Hulle het nie ’n spesifieke land van hul eie gehad nie. Wat hulle as groep bymekaar gehou het, was dat hulle die transportryers van hul tyd was. Hulle het met karavane heen en weer tussen Babel en Egipte getrek. Die hoofhandelsroete het geloop deur Palestina, land van die Israeliete. So in die verbygaan het hulle links en regs strooptogte uitgevoer. Met hul beweeglike kamele kon hulle vinnig toeslaan en weer padgee. Hulle het weggebly van die ommuurde stede, maar die platteland was weerloos teenoor hulle. Die mense daar het in groot vrees gelewe, want die Midianiete kon in ’n ommesientjie alles verwoes wat ’n menselewe gevat het om op te bou, die oumense doodslaan en die jongmense as slawe ontvoer.

Die land word kaal gestroop en die mense verarm. Hulle wil weet waarom die Here nie help nie. Watter troos en opbeuring kan ons van Hom verwag in hierdie benarde tyd? En die Here stuur ’n profeet om aan hulle te verduidelik dat Hy hulle verlaat het omdat hulle nie na Hom luister nie. Is dit ongevoelig? Nee. Die profeet verstaan dat die oordeel ’n uiting van God se liefde is. Dit is die manier hoe die Here vashou aan sy volk wat deur hul eie toedoen andersins sal onder gaan. Hulle wat voel dat hulle van God verlate is, is self diegene wat Hom verlaat het.

Psalm 90: 3

Dr Piet Boshoff

Emeritus