God se oordeel en genade val saam

 

Rigters 6: 11

 

Ons het gister gesien die volk wat voel dat hulle van God verlate is, is self diegene wat Hom verlaat het. Nou gebeur die wonder. Die mense gaan nou leer met wie hulle te doen het. Die Here verlaat sy volk nie. Daarvoor is sy Naam, sy openbaring, vir Hom te belangrik. In die openbaring maak Hy Homself aan ’n verlore mensdom bekend. Die woord Here is nie meer raaiselagtig en negatief nie, nie meer ontwykend nie, maar toenaderend, opsoekend. En die mense se afvalligheid, hul ongehoorsaamheid, het ook nie meer die laaste sê nie, maar die Here se ontferming, sy toenadering.

Onaangekondig, by wyse van ’n verrassing, gaan die engel van die Here daar sit. Hoe kan die Here Homself anders aan sondaars openbaar as onverwags, as sonder aanleiding? Al God se werke dra die karakter van dood en opstanding, omdat Hy te doen het met mense wat reeds in sonde dood is. In sy openbaring val oordeel en genade saam. In die oordeel, tydens die oordeel, is Hy genadig. Hy luister wel na dié wat nie meer na Hom luister nie. Hy verlaat nie dié wat Hom verlaat het nie. Die titel Here druk juis dit uit, dat Hy so met ons maak. Hy is Here, maar Hy moet hard veg om ons gehoorsaam te kry.

Ons behoud lê nie daarin dat ons enige verdienste het om op te bou nie. Dit lê eerder daarin dat Iemand van ons hou. Hy het ons nog nie afgeskryf nie. Ons is dus nie uitgelewer aan die plunderaars nie. Ons word omgewe, gedra, deur die Here wat die toekoms vir ons wil oopmaak.

Psalm 85: 1

Dr Piet Boshoff

Emeritus