Ekskuus, Meneer

 

Rigters 6: 12-13

 

Vir Gideon wat besig is om weg te kruip, klink die groet vreemd en hy lewer kommentaar uit Israel se omstandighede daarop: Met alle respek, Meneer, as die Here dan werklik by ons is, hoe is dit moontlik dat ons in hierdie haglike omstandighede verkeer? Ek merk niks van sy nabyheid nie. Wat het van al die groot dade geword wat Hy vroeër aan ons volk gedoen het?

Gideon kan hom dit nie indink dat die Here ’n willekeurige en veranderlike God sou wees wat vandag so maak en môre weer anders nie. Wat die Here belowe, kom Hy na en sy trou is elke môre nuut. Dit mag die middelpunt, die lewende sentrum wees waaromheen die gelowige sy geesteskragte mag organiseer. Maar van Israel word gesê dat hulle nie na die Here geluister het nie (Rig 6: 10). Hul vertroue in die Here het oorgegaan in die sekerheid van mense wat meen dat God Homself met sy beloftes in hul hand gegee het en dat Hy nou van hulle afhanklik is. Wat ons ook al doen, die Here is by ons. Hulle begaan dié ernstige fout, ’n fout wat telkens by die gewone godsdienstigheid insluip. Hulle het God byderhand; daarom trek Hy sy hand terug. Hy trek Homself terug, sodat ons Hom nie geweld kan aandoen nie. Met so ’n houding gee die mens die Here se genade prys en val uit God se hand uit. Wanneer die Here dan ons sekerheid skud, soos wat Israel dit beleef het, beteken dit nie dat Hy sy heil onttrek nie. Hy verklee dit in sy oordeel, in ’n regstelling. Hy maak dood om lewend te maak; Hy verneder die mens om hom te verhoog; Hy maak iemand ’n bangerige outjie om ’n dapper man van hom te maak.

Wanneer ons eie sekerhede vernietig word en die golwe oor ons slaan en ons dink dat die Here ons verlaat het, behoort ons klagte steeds deur die vraag begelei te word: Waarheen wil die Here ons lei? En die antwoord sal wees: op die pad van sy vrede.

Psalm 42: 5

Dr Piet Boshoff

Emeritus