In diens van die Here

 

Rigters 6: 14-16

 

Gideon se verwysing na hul omstandighede en die uitbly van die Here se magtige dade word deur die engel daarmee beantwoord dat hy, Gideon, daartoe bestem is om ’n rol te speel dat hierdie magtige dade weer vir die volk voortgesit kan word.

Die redding uit die nood word aan ’n dapper man opgedra, maar dit bly tog gegrond in die opdrag van die Een wat hom roep. Hy, wat maar soos al die ander is, word opgesaal met hierdie buitengewone taak. Al wat van hom verwag word, is om net sy bes te doen, al sy kragte in te span. En nou kan ’n mens opdragte kry wat jou laat goed voel. Jy beskou dit as ’n erkenning van jou vermoëns dat mense bereid is om so ’n verantwoordelikheid aan jou op te dra. Maar wanneer die opdrag van die Here af kom, val die ydelheid weg en kan jy eintlik net vra: Wie is ek om so iets te kan doen?

Die jongman, Gideon, kyk heel nugter na sy status en hy dink aan die oormag van die vyand. Aan sy kant is daar eintlik niks nie; aan hul kant lê die groot oorwig. Gideon weet dat hy dit nooit so wou gehad het nie, en selfs as hy sou wou, is hy tog nie uitgeknip daarvoor nie. Gideon noem dat hy deel van ’n klein familie uitmaak en boonop die jongste kind in sy pa se huis is. So maak Gideon beswaar teen sy roeping. Maar vir die Here is dit nie ’n probleem nie. Wie, soos Gideon, van sy eie swakheid bewus is, soek steeds dekking in God se genade. Buitendien kan ’n mens die Here se werk nie vrywillig doen nie, nie omdat jy so ’n geskikte persoon is nie; jy doen dit net onder dwang. Doen jy dit vrywillig, word dit so maklik jou eie werk, soek jy jou eie eer daarin. Dan is jy nie meer in diens van die Here nie.

Psalm 84: 5

Dr Piet Boshoff

Emeritus