Skep moed en kom skep by God

 

Psalm 143: 1, 8-10

 

Ek het hom op ’n bankie in die Kompanjetuine gekry. Sy oë was dof. Hy was moeg en moedeloos en sy hande skurf en verkreukel. Sy lewe het vir hom geen sin en betekenis nie, sê hy. Die sin is weg, sy toekoms is donkernag. Hy kan maar liewer dood wees, sê hy in soveel woorde. Vir hom was daar niks meer oor nie – daar is geen uitkoms of lig in die tonnel nie. So sien hy op daardie oomblik nie die duiwe en die eekhorings wat hoopvol om hom saamdrom raak nie.

Miskien kan u die prentjie sien? Het u ook al so gevoel? Jy het niks om te doen nie, en jy voel ook nie meer lus om enigiets te doen nie. Jou eens positiewe ingesteldheid het verkluim met die koms van nog ’n winter. Soos die koue, grys en nat weer om jou, so voel jou binneste.

Stop! Skep moed. Onthou die dae of probeer onthou toe dit tog anders was. Gryp na die verlede se bakens toe jy geweet en gesien het hoe God wel uitkoms gee. Skep moed vir die toekoms. Bid vanoggend saam met die digter van Psalm 143: Laat my elke môre u liefde ondervind, want in U stel ek my vertroue. Wys my die pad wat ek moet loop, want my hoop is op U gevestig.

Die psalmdigter bid ernstig, eerlik en opreg. Hy vra na God se wil, hy vra dat God se Gees hom weer op ’n gelyke pad lei. Daarom vra hy met ’n nuwe dringendheid dat God hom van sy vyande sal red en sal keer dat hy sterf. Hy kon moed bymekaar skraap en aanklop vir hulp by God. Want, U is my God (vers 10) en ek is u dienaar (vers 12). Die deurbraak het gekom. Hy het weer hoop en hy het sy hernude vertroue in God gestel.

As u nog vandag kan opkyk en vra vir hulp, is dit nie hopeloos nie. God is gretig dat ons elke môre en elke aand sy liefde sal ondervind.

Ds Kathleen Smith

Kaapstad