Wat was jou erfenis van jou pa en ma?

 

Spreuke 23: 22-25

 

Vra vir enige kleuter: Wie is vir jou die sterkste man in die hele wêreld? Wie is vir jou die mooiste vrou in die hele wêreld? En die antwoord gaan beslis wees my pa en my ma. Vir ’n kind is jou pa en ma die kosbaarste en belangrikste mense in jou lewe. Kom ons bedink watter erfenis ons van hulle gekry het.

Ek onthou wat my pa vir ons geleer het: Jy leen nie geld nie, jy werk daarvoor. Jy koop nie iets as jy dit nie kan bekostig nie. Jy betaal kontant. Moet nooit sê nooit nie. O ja, en hoe om stywe pap te maak! Maar tye het verander, daar is nie werk nie, jy kan nie meer net kontant koop nie… So kan ons vandag redeneer. Maar wat is dit wat ons eintlik geleer het?

Lees nou Spreuke 23: 22-25. Die waardes en beginsels wat vasgelê is, gaan nie tot niet nie. My pa het dit met sy ervaring en wysheid vir ons kinders geleer en gedemonstreer met sy lewe: hoe om met geld te werk, hoe dinge aanmekaar gesit word, hoe ons ons moet gedra daar buite – soos om asseblief en dankie te sê. Wanneer hy dan vandag sy kinders, groot met eie kinders, sien, dan is daardie kleinkinders die refleksie op sy opvoeding. Hy is bly en dankbaar as hy kan sien dat ons geluister het en geleer het by hom.

Spreuke sê die kind wat besef watter wysheid sy ouers aan hom oorgedra het, eer sy ouers daarvoor. Maar al is jy groot, getroud en dalk al self ’n oupa, is jy steeds bereid om te leer by jou pa en ma? Daardeur bly jy gehoorsaam aan hulle solank hulle lewe. Eerbied en respek vir ons ouers – dit is wat God van ons vra. Ouers is kosbaar – Godvresende ouers is ’n groot geskenk van die Here vir ’n kind. Ouers is ons eerste naastes – hulle is die eerste wat ons moet liefhê as van ons gevra word: Jy moet die Here jou God liefhê en jou naaste soos jouself. Hulle leer ons om ons ander naastes ook lief te hê.

Gebed

Dankie, Here, dat U vir ons ouers gee deur wie ons kan leer en grootword. Ons bid vir hulle wat nie daardie voorreg het nie. Amen.

Ds Kathleen Smith

Kaapstad