’n Nuwe dag, nog ’n kans

 

Job 38: 12-14

 

Weet jy waar die daeraad vandaan kom, die daeraad wat lig oor die hele aarde bring sodat die goddeloses nie in die donkerte kan bly skuil nie? Met die daeraad word die vorm van die aarde sigbaar, dit neem vorm aan soos klere wat aangetrek word.

God is aan die woord en Job luister: Hy moet, die ene ore. Hy moet hoor sodat hy kan weet en kan onthou. Dit is God wat gemaak het – elke dag is deel van hierdie nuut wees. ’n Nuwe dag is ’n nuwe kans soos wat ek en jy vanoggend het. Ja, ons is wakker en dis nie so vanselfsprekend dat dit sou gebeur nie.

Wat gebeur met hierdie dag wat ontwaak? Die aarde kry sy vorm. Donker is met die bose magte geassosieer, lig met lewe en met God. Deur lig kry die aarde vorm, die berge en riviere en vlaktes en die plante en diere word sigbaar en ons kan dit identifiseer.

Is jy reg vir hierdie nuwe dag? Waarvoor sien jy kans of dalk nie kans nie, in hierdie nuwe dag? God is in beheer, reg om – soos wat Hy ons deur die nag gedra het – ons ook te dra in hierdie dag. Is dit nie genoeg rede tot dankbaarheid nie?

Jy het ’n nuwe dag waarin jy opnuut verwonderd kan staan voor God se grootheid en die wonder van sy genadige sorg. Jy het ’n nuwe dag waarin jy herinner kan word van die verlossing wat Hy gee. Jy het ’n nuwe dag waarin jy God met blydskap en dankbaarheid kan dien. Hoor en onthou en verbly jou dan in die wete: God sorg en sy genade is genoeg – dit is al wat jy vir vandag nodig het.

Ds Kathleen Smith

Kaapstad