Om te vergewe

 

Genesis 50: 15-21

 

Na alles wat met Josef gebeur het, kan ons byna sê hy het alle rede gehad om nié te vergewe nie: Hy het nie gelukkige huislike omstandighede gehad nie. Hy is ’n regte dromer wat sy broers ontstel. Sy broers besluit om hom in Dotan uit die weg te ruim. Josef word verkoop aan Potifar en hy word vals beskuldig. Josef beland in die tronk. Dit alles lyk vir ons na redes waarom Josef kwaad behoort te wees en selfs te haat.

Ja, hy het rede gehad om nié vergewensgesind te wees nie! Die verhaal eindig met die dood van hul vader Jakob en die broers se vrees: En as Josef nog steeds ’n grief teen ons het en ons nou gaan terugbetaal vir al die kwaad wat ons hom aangedoen het? Josef antwoord in vers 21: "Moenie bang wees nie. Ek sal sorg dat julle en julle kinders kos het." Josef het hulle jammer gekry en hulle gerusgestel.

Josef leer sy broers ’n geloofsles! God het deur die kwaad wat hulle wou doen, die goeie laat gebeur! God laat Josef sién en getuig dat dit God se werk is! Vergifnis spruit nie uit die goedheid van ’n mens nie. Vergifnis is die vrug van ’n lewende verhouding met God.

U en ek het ook baie keer verskonings waarom ons nie kan vergewe nie. Ons soek baie keer redes by ander mense waarom ons nie kan vergewe nie. Sou ons dit nog waag om te sê ons vergewe, sê ons in ons binneste: Maar ek kan nie vergeet nie… Vir die gelowige in Jesus Christus is ware vergifnis net moontlik wanneer ons glo en bely dat God ons danksy Jesus Christus vergewe het. So leer ons om, soos Jesus Christus in sy liefde ons leer, ook te vergewe. Die bron van hierdie geloof en die rigpunt van hierdie geloofsdenke is Jesus Christus wat aan die kruis bid: Vader, vergeef hulle…

Gebed

Hemelse Vader, vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree. Amen.

Ds Leon Geel

Grimbeekpark