Verlore mense is God se saak

 

Hebreërs 9: 11-22

 

God het deur Christus verlore mense se saak eens en vir altyd God se saak gemaak! Dit is iets wat ons weet en glo, maar ons optrede bevestig dit nie altyd nie. Die verlore saak van die mens begin by die sondeval. Die mens swig voor die versoeking van sonde en skend die verhouding met God. God stel ’n verbond in en herstel die verhouding. Hierdie verbond het omvattende bepalings waaraan die mens nie kan voldoen nie. Die mens het die voorskrifte tot uiterlike reiniging nagekom, maar innerlik was hulle ver van God af. Die bloed van die offerdier is gesprinkel en moes die uiterlike reinig, maar van bekering van die hart was daar nie regtig sprake nie. Die mens is uit hom- en haarself nie in staat om die sonde te oorwin nie.

Daarom kom God en maak in en deur Jesus Christus die verlore saak van die mens God se eie saak. Jesus Christus word dié Hoëpriester. Hy dien in ’n verbondstent wat nie deur mense gemaak is nie. Hy offer nie die bloed van diere nie, maar stort sy eie bloed op Golgota. Jesus is die Middelaar van die nuwe verbond en sy dood maak dié wat geroep is deelgenote van die beloofde ewige erfenis. Alles wat Christus vir die mens pleit en bewerk by God, word ons eiendom deur sy bloed wat vloei aan die kruis.

Vir ons wat glo in Christus is dit belangrik om te antwoord op die vraag: Is dit in ons elkeen se lewe duidelik dat die teken van die nuwe verbond ons leefwyse bepaal? Ons ís skoon gewas deur die bloed van Christus by die doop en hét deel aan die liggaam en bloed van Christus by die Nagmaaltafel. Dit word sigbaar wanneer Hebreërs 9: 14 deur ons uitgeleef word: Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien!

Gesang 498: 1

Ds Leon Geel

Grimbeekpark