Hoop en voleinding

 

Klaagliedere 3: 21-33

 

Vandag is die einde van die Kerkjaar en staan bekend as Ewigheidsondag. Volgende Sondag begin die nuwe Kerkjaar, want dit is die eerste Adventsondag wanneer die kerk begin nadink oor die koms van Christus na die wêreld. Die laaste aantal Sondae van die Kerkjaar staan bekend as die tyd van hoop en voleinding. Dan gee ons aandag aan die hoop wat in ons leef oor ons eindbestemming.

Ons gebruik die woord hoop in die alledaagse lewe om moontlikheid en verwagting te kenne te gee. In krisistye sê ons Al wat nou nog oorbly, is hoop, met die gedagte dat dit beter moet gaan, al weet ons nie hoe dit kan gebeur nie.

Hoop as ’n saak van geloof het ’n besondere betekenis. Dit is ’n soort honger, ’n verwagting wat nie bevredig word met iets wat ons kan meet of koop nie. Hoop in die geloof het te doen met voleinding. Dit beteken ons glo dat elkeen van ons nie maar ’n stukkie genetiese toevalligheid is nie, maar dat die Here aan ons lewe betekenis gee – ’n betekenis wat inpas in sy groter plan, en wat strek tot anderkant die einde van lewe op die aarde. Daar, by die voleinding, waar tyd nie bestaan nie en hartseer en pyn opgelos sal word in die vreugde van God se teenwoordigheid, sal alles voleindig word. Die toonaard van hierdie hoop is nie in die klaende mineurtoon nie, maar in die vreugdevolle majeurtone van prys- en lofgesange.

Laat ons dit hoor vandag: As jou lewe in wanhoop versink, as jy platgeslaan is en oorweldig word deur smart en trane, moet jy weet – die Here sal Hom oor jou ontferm en weer vir jou vreugde gee. Die Here is te vertrou. Laat ons daarom leef met die hoop van die voleinding in ons harte.

Dr Piet van Staden

Stellenbosch/Worcester