Soek, vertel en bring...

 

Johannes 1: 35-50

 

Joseph Campbell, die groot kenner van die mitologie, meen die mens se verwagting van ’n gelukkige einde is in teenspraak met ons ervaring. Alles, sê hy, dui daarop dat die dood die einde van alle dinge is: versplintering, verganing, vernietiging. Dit sluit aan by Prediker, wat die kwellende vraag só formuleer: Wie kan sê of daar meer is as dood en vergetelheid? Wie sien dat die asem van die mens opgaan boontoe en die asem van die dier afgaan ondertoe? Niemand weet of daar meer is as hierdie lewe nie.

Campbell verwys egter ook na die verhale van herstel en nuwe dinge wat dwarsdeur die wêreld by alle kulture voorkom. Dit veronderstel dat daar meer is as wat ’n mens op die oog af kan waarneem. Inderdaad, die mens leef met hoop, en daardie hoop is gebou op ’n verwagting, ’n hunkering na iets anders, iets meer en beter as dit wat ons ken.

As Johannes vir Jesus uitwys as God se Gesalfde, die Een aan wie die taak van bevryding opgedra is, verlaat sy dissipels hom en volg vir Jesus. Johannes het stip na Hom gekyk, sê die gedeelte. As profeet wat die weg van die Messias moes berei, eien Johannes in Jesus die Een wat met volmag van God sal optree. Hier word van die belangrikste beginsels in die lewe van ’n gelowige aangeraak.

Dit is opgesluit in drie vrae:

Vraag 1: Waarna kyk jy? Kyk jy met die verwagting om God se werking te • sien?

Vraag 2: Waarna soek jy? Verstaan jy jou eie geloofsverwagting?•

Vraag 3: Wat doen jy omtrent jou verwagting? •

Andreas soek eerste sy broer, Simon Petrus, en vertel hom van die Messias wat deur Johannes uitgewys is. Hy bring vir Petrus, die rots, en Filippus bring vir Natanael, die man in wie daar geen bedrog is nie. Soos hulle aankom, kyk Jesus in hul harte. Hy kyk met die verwagting om die goeie te sien, en bied redding en hoop aan.

Verstaan jy hoekom jy vandag hier is? Jy is gesien, jy is genooi, jy is gered. Gaan wees dan ’n dissipel wat soek, vertel en bring. Dit is wat gelowiges doen.

Dr Piet van Staden

Stellenbosch/Worcester