Dit gaan oor vergifnis

 

Matteus 18: 21-35

 

Die Bybel praat talle kere oor vergifnis. Hier is dit die onderwerp van ’n gesprek tussen Jesus en sy dissipels. Die agtergrond van die gesprek word vroeër in hoofstuk 18 gegee: Die dissipels stry oor wie die belangrikste is in die koninkryk van die hemel. Daardie groot stryd van mense wat hul eie posisie in die lewe probeer bepaal relatief tot mekaar. Wie is belangriker in die gesin? Die skool? Die Kerk? Die werk? In hierdie geval selfs: die koninkryk van die hemel? Hulle dra hul aardse jaloesie en stryd direk oor op die hemel self, waar God koning is. Jesus roep ’n kind en sê: Die geringes is die belangrikes in die koninkryk van die hemel. Hulle is dié wat vertrou; wat nog nie die berekeninge maak waarmee julle julle besig hou nie. Word soos ’n kind!

Hy probeer verduidelik dat God anders is. Hy vertel die gelykenis van die verlore skaap waar dit gaan oor ’n herder wat soek en vind, en bly is daaroor. Ook julle, sê Jesus, die gemeente van God, moet so optree. Julle het die vermoë om die hemel oop of toe te sluit vir ander. Werk dan saam, glo saam, en sluit oop.

Dan vra Petrus die vraag oor vergewing. Sy vraag is ’n som: Hoeveel keer moet ek vergewe as iemand my benadeel? En hy stel ook ’n antwoord voor vir die som: sewe keer. Die Jode het uit Amos 1 en 2 afgelei dat ’n mens drie maal moet vergewe. As Petrus sê sewe keer, is dit meer as dubbel. Dit is tegnies. Hy wil ’n riglyn hê en terwyl hy ruim toelaat, stel hy steeds ’n boonste grens.

Jesus antwoord direk: Nie sewe keer nie, maar tot sewentig maal sewe keer. Sy bedoeling is duidelik nie om ’n boonste grens vas te stel nie. Hy gebruik hierdie uitdrukking om te sê: Vergifnis is onbeperk. Om deel te wees van God se koninkryk, beteken om in die onmeetlike ruimte van vergifnis te leef. Dít is ons krag, en dit is ons maatstaf.

Dr Piet van Staden

Stellenbosch/Worcester