Van ramp tot seën

 

Esegiël 47: 1-12

 

Profete was mense met ’n besondere vermoë om die geskiedenis en die hede te interpreteer, en op grond daarvan te onderskei wat die volk moet doen om aan God se wil gehoorsaam te wees. In vandag se terme sal ons hulle beskryf as deskundige persone op die gebied van geopolitiek, geskiedenis en teologie (Godsleer). Hulle was ook nie net manlik nie. Daar is sewe vroue in die Ou Testament van wie gesê word dat hulle geprofeteer het, naamlik Sara, Miriam, Debora, Hanna, Abigajil, Hulda en Ester.

Esegiël profeteer voor en tydens die Babiloniese ballingskap. Dit blyk dat die volk nie in staat was om in te sien dat hulle van God af weggedwaal het nie. Selfs die verwoesting van Jerusalem en die tempel kon hulle nie so ver bring om te dink dat hier ’n les te leer was en dat hulle hul toevlug na God moes neem nie. Hulle het volhard in hul sondigheid, enersyds om te flirteer met ander godsdienste, en andersyds om te projekteer, dit wil sê, om dit wat met jou gebeur, toe te skryf aan eksterne faktore soos die vyand of omstandighede of sommer net toeval. Daar was geen ernstige introspeksie nie, en daarom geen bekering tot God nie. Dit is hieroor dat Esegiël praat. Sy stem is die een wat in hierdie troebel tyd die volk oproep: Luister Israel, so spreek die Here!

Ons sukkel met die rampe in ons lewe. Ons het moeite om dit te versoen met hoe ons God verstaan en ons eie waarde meet. Esegiël sê: Moenie dat die ramp jou van God vervreem nie. Dit moet jou juis nader aan Hom bring en jou verhouding met Hom verdiep. Dan sal jy die groter prentjie sien. Meer as dit, jy sal ook die visioen sien van ’n volle rivier van genade wat by God ontspring en jou dorre en rampspoedige lewe aanraak, nuwe groei bring, ’n dooie landskap laat herleef. Mag ons dit almal ervaar in ons persoonlike lewe, maar ook in groter verband, in die lewe van ons Kerk, volk en land.

Dr Piet van Staden

Stellenbosch/Worcester