Ons is die tempel...

 

2 Korintiërs 6: 14 – 7: 1

 

Hierdie gedeelte het al baie misverstande opgelewer. Dit is so maklik om geloof vir onsself op te eis maar ander dit te ontsê. Dit gaan dikwels vir ons nie net oor die vraag of iemand in God glo nie, maar of hulle volgens ons reg glo, of hulle dieselfde as ons glo. As dit nie so is nie, bevind ons maklik dat hulle dwaal en veroordeel ons hulle.

Dit gaan oor die vraag na rein en onrein. Die antropoloog Mary Douglas het heelwat geskryf daaroor. Sy het ’n eenvoudige definisie. Rein en onrein werk by mense soos skoon en vuil. Iemand of iets is skoon of rein as dit aan bepaalde vereistes voldoen. Vir Israel was jy rein as jy ’n Jood was en God se gebooie onderhou het. Enigiets wat nie ingepas het in die definisie nie, of waaroor jy onseker was, was onrein. Douglas se definisie is: Dirt is matter out of place. Stof hoort nie op meubels nie; onkruid hoort nie in lande nie; klassieke musiek hoort nie by rock nie; gelowig hoort nie by ongelowig nie. Dit het te doen met mense se siening van wat suiwer en aanvaarbaar is, teenoor onsuiwer, onrein, gekontamineer. Sekere dinge is aanvaarbaar, ander is taboe.

Die Korintiese Christene wat uit ’n Grieks-heidense agtergrond gekom het, moes nog daagliks daarmee in aanraking kom. Van hul familielede was waarskynlik aanhangers van daardie heidense godsdienste. Dit het spanning veroorsaak. Hulle wou die oorgang makliker maak deur die onderskeid tussen rein en onrein te versag. Paulus sê nee, daar kan geen verband wees tussen reg en onreg nie. Die gelowige het twee take: Neem weg wat jou onrein maak, en voeg by wat jou rein maak.

Dit gaan nie oor die leef saam met mense wat anders dink en doen en glo as jy nie. Gelowiges moes deur alle tye in die wêreld leef tussen ander mense met ander gelowe en gebruike. Dit gaan daaroor dat jy jou geloof kontamineer as jy toegee aan onreg en saamspeel met die onreine. Dit kan nie. Bly dus wat jy is: die tempel van die lewende God.

Dr Piet van Staden

Stellenbosch/Worcester