Hy kom na ons toe

 

Johannes 8: 12

 

Na ’n hele jaar se gespartel en gewerskaf kan ons vandag die vier weke begin aftel tot by Kersfees. Vandag, met die begin van Advent, kan ons onsself begin voorberei op die Christusfees. Oral in kerke sal die Adventkerse begin brand om die koms van die Here te herdenk. Steek ook kerse in jou huis aan, wanneer jou gesin bymekaar is, of juis wanneer jy alleen voel. Met elke kers wat ons aansteek, is ons nie net nader aan al die geskenke wat Kersfees vir ons inhou nie, maar saam sal ons meer bewus word van die wonderlike tyd waarin ons nou is.

Van vandag af word ons weer opnuut deel van die feesverhaal en vertel ons saam van die ou verhaal, van die Kind, die krip, van redding en die krag van God se hand. So verlig ons die wêreld om ons met ons kerse, word ons deel, kry ons deel aan die kettings lig wat moeg gesoekte oë op God se Kerskind rig…

Johannes 8: 12 sê vir ons: Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee. Christus bring vir ons lig, in ons lewe, in ons drome, ons herinneringe, ons vrae en ons behoeftes. Wanneer hierdie lig wat Jesus bring begin deurskemer na ons verhouding met mekaar en veral in ons verhouding met God, sal Kersfees ’n werklikheid van lig in ’n soms donker wêreld word. Die nuwe lewe wat dit vir ons bring, is ook nuwe lewe wat ons kan uitleef.

Gebed

Here, U is die lig vir my wêreld. Ek weet wanneer ek by U is, is daar vir my lewe. Help my dat dit waar sal word in my lewe. Amen.

Ds Leanie Oberholzer

Pretoria-Oos